Liewe Heksie en die helikopter

Herinneringe aan Liewe Heksie

Met die uitgawes van Liewe Heksie prenteboeke met illustrasies deur Vian Oelofsen, dink Sjané Colin terug aan haar kinderdae saam met Liewe Heksie.

As iemand my vra watter oomblikke uit my kinderdae die meeste uitstaan, is dit wanneer ek Vrydagmiddae na kleuterskool by my ouma gaan kuier het. Natuurlik was dit lekker om met my ouma te gesels en haar soetkoekies te eet, maar die groot rede waarom dit vir my uitstaan, is dat ek Liewe Heksie daar kon kyk.

My ouma het ‘n videomasjien met ‘n klomp video’s van Liewe Heksie gehad. Ek het dieselfde episodes oor en oor gekyk en het selfs van die woorde uit my kop uit geken. Liewe Heksie was my held.

Ek het baie kwaad geraak as die gifappeltjies vir Liewe Heksie omkrap en die silwer roos wil steel. Die gifappeltjies was my aardsvyande en dit kon my baie frustreer as Liewe Heksie van haar towerperd, Griet, vergeet wanneer sy in die moeilikheid is. Uiteindelik verskyn die towerperd wanneer Liewe Heksie onbewustelik “O Griet!” sê en red hulle uit die penarie. Ek was ook mal oor Mattewis die kat. My eie kat se naam was Piper, maar my familie het my gespot oor my obsessie met Liewe Heksie deur my kat “Mal Matewis” te noem.

Ek onthou dat ek eendag soos Liewe Heksie aangetrek het kleuterskool toe. Die ander kinders het soos prinsesse, narre en boere aangetrek en ek was ‘n heks. Dit het my baie ontstel toe die kinders in my klas lelike weergawes van die Liewe Heksie-liedjie gesing het en ek onthou dat ek selfs daaroor gaan huil het toe ek by die huis kom.

Die video’s wat ek van Liewe Heksie gekyk het, het veroorsaak dat ek die boeke daarvan ook wou lees. My ma het vir my die stories van Liewe Heksie, Liewe Heksie en Matewis en Liewe Heksie gaan maan toe gekoop. Ek het hierdie boeke oor en oor gelees en die illustrasies in die boek baie geniet. My hart was baie seer toe my ma ‘n paar jaar gelede die boekies weggegee het. Dit is ‘n deel van my kinderdae wat altyd by my sal bly.

Wie is Liewe Heksie,
wie wil nog graag weet,
luister na haar liedjie
dan sal jul nie vergeet.

Ek is natuurlik nie die enigste een wat mal was oor Liewe Heksie nie, hier is ‘n paar ander se kommentaar ook:

“My ma het Liewe Heksie aan my bekend gemaak omdat sy mal daaroor was toe sy ‘n kind was. Dit is vir my interessant hoe verskillende generasies se kinders almal daarvan hou.” – Talisa van Sittert, 20.

“Die gifappeltjies was my gunsteling gewees. Ek het nog altyd van die “slegtes” gehou want hulle maak ‘n storie.” – Cobus van der Merwe, 21.

“Liewe Heksie bly een van die beste kinderstories. Dit laat kinders lag, hulle verbeelding gebruik en daar is altyd ‘n mooi les om te leer.” – Henriëtte Swain, 71.

“As ek nou op Youtube ou video’s van Liewe Heksie gaan kyk, kan ek nie glo dat dit my as kind so geïnteresseer het nie. Ek was absoluut gek daaroor.” – Chenique Swartz, 30.

“Ek het baie prenteboeke van Liewe Heksie gehad en ek was mal daaroor as Karel Kat met sy deftige motor by Liewe Heksie se huis aankom. Dit is vir my tot vandag toe baie oulik.” – Elbie Roetz, 28.

“Elke keer wat ek glow-in-the-dark sterretjies teen ‘n muur of ‘n dak sien, dan dink ek aan Liewe Heksie se sterretjies kombuis.” – Bets de Bruin, 57.

Dit is duidelik dat Liewe Heksie ‘n spesiale plek in baie mense se hart het en deel maak van die mooi herinneringe van ons kinderdae. Dit is alles te danke aan Verna Vels wat kinders se verbeelding verryk het en hulle gelukkig gemaak het.

Hulle noem my Liewe heksie,
maar Lefienja is my naam,
ek’s die slimste heksie wat ek ken
en ek was al op die maan.

Sjané Colin
Sjané Colin is ‘n skryfkunsstudent aan die NWU (Potchefstroomkampus) 2018.