As die lig afgaan

Fanie Viljoen
Nog twee minute ...

Nog twee minute dan sal ek weet of dit gewerk het.

Ek hou die liggie dop. Dis nog groen.

Daar is ’n tollende zoemgeluid.

Een en ’n halwe minuut.

Die DING wou my mos jaag. Hy het seker gedink ek is dom.

(Een minuut.)

Die DING het seker gedink ek is ’n maklike prooi.

(’n Halwe minuut.)

Maar toe lok ek hom hiernatoe. En nou is hy daarbinne. Omdat ek gemaak het of ek in die gat gaan klim.

(Vyftien sekondes.)

Hy het te laat besef dit was ’n fout. Maar toe het ek die deur al toegeklap. Hy het benoud teen die deur se venster geklap.

Vyf.

Vier.

Drie.

Twee.

Een.

Die liggie gaan af. Die wasmasjien het klaar gewas. Kom ons kyk of die DING dit oorleef het …

Skrywer: Fanie Viljoen

Fanie Viljoen
Kopiereg Fanie Viljoen
2013-08