“Ek het iemand anders ontmoet, Tim,” sê Jessica.
Tim Muller sit roerloos op Hoërskool Caldwell se paviljoen. Net
sy inmekaargevlegte vingers trek saam toe hy die woorde hoor, en in sy
keel maak sy asem ‘n sagte plofgeluid.
Jessica staan voor hom: kort, donker krulle in haar bleekmooi
nek, haar oë net so bruin en haar lippe rond, sag en rooi. En nou ook
verraderlik.
Op die rugbyveld daar anderkant, agter Jessica se rug, speel van
die ouens rugby. Hulle roep opgewonde na mekaar en probeer ‘n laaste
drie inkry voor die skoolklok lui.
Hiervan sien Tim niks. In ‘n oomblik het sy wêreld tot stilstand
gekom. Dit trek kleiner totdat daar niks meer oorbly nie behalwe die
pyn wat sy hele lyf toerank. Hy staar voor hom uit, deur die pyn.
“Wie is dit?” vra hy uiteindelik sag.
“Dis net ‘n ou,” antwoord sy ontwykend. “Ek is jammer,” sê Jessica voor sy omdraai en wegstap. Van hom af wegstap.
Dis hoe dit eindig.