En skielik het ek weer vier gevoel

Daardie winter het ek so ‘n rooi truitjie gehad. Van dié soort waarin ‘n mens sommer so wegraak. Daar was ‘n kaggel in die sitkamer en my onderbewuste wil-wil iets onthou van rooibostee met te veel suiker. Ja, dit was rooibostee en gebreide slaapsokkies.

As kleuter het ek nou nie veel verstaan van maande en jare nie, maar ek het wel verstaan dat ek vier jaar oud was en een keer per maand kom daar so ‘n kleurvolle pakkie met my naam op by die huis aan. Toegedraai in karton met ‘n oerwoudmotief op. En binne-in was keer op keer die allermooiste boeke. Oor varke en prinsesse. Drake wat kaas maak en ruimtewesens wat maan toe trek. Tog is dit snaaks hoe ‘n mens op een boek aandring. Tussen die ander honderd en vyftig op die rak sou ek telkens dieselfde een uitkies. Pienke. Pienke was ‘n pienk-rooi papegaai wat wegraak as ‘n seuntjie by sou ouma kuier. Die storie het vir my in absolute vervoering gehad. Ek wou opsluit ‘n pienk papegaai hê, kompleet met ‘n hok, spieëltjies en klokke. Nodeloos om te sê, ek moes maar tevrede wees met die storieboek.

So besluit ek toe dat daar net een uitweg is, ek sal moet leer lees. Dan is ek uit almal se hare en kan sommer wraak ook neem deur heeldag te lees net wat ek wil! Maar selfs op vier is ‘n mens soms tot ongelooflie diaboliese planne instaat. Dié gelesery moes in die geheim plaasvind. Soos ‘n wafferse klein Holmes begin ek toe so skelm-skelm lees. Hoe ek dit reggekry het, weet nugter. Bietjie hier uit die Kinderbybel, bietjie daar in Huisgenoot en ‘n paar maande later sit ek af om vir my pa die verhaal van Phillipus te lees. Was nogal vreemd dat niemand juis ‘n ophef gemaak het nie, eers later sou ek hoor dat my pa gedink het my ma het my geleer lees en my ma het gedink my pa het die edele taak verrig.

Na ‘n jaar of wat het Saartjie gevolg, daarna Trompie, Uile en al die gebruiklike jeugliteratuur, soos jong bleeksiele in wording mos maar maak. Maar deur die Drie varkies en later Sus, Daan, Kees en daardie verdekselse kalkoen, het Pienke steeds my gunsteling gebly. Nou die dag krap ek in die studeerkamer rond en kom af op ‘n boks vol kinderboeke. Paultjie Polisieman, Die boef, Snater, die hele versameling Grimm en Pienke. Die blaaie was taai toe ek daardeur blaai. En skielik het ek weer vier gevoel. Nostalgie dalk? Klein vingermerkies het aan die bladsye geklou. Op bladsy twaalf was daar ‘n rooibosteevlek. En ek het gewonder of Donna Claire hierdie seisoen rooi truie in voorraad het.

Christi Kruger
Christi was ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit
0
Would love your thoughts, please comment.x