Sprokies vanoor die wêreld

Hoofsaaklik geel en baie swaar was my gunsteling boek toe ek vier was. My pa het ‘n beurs gekry om vir ‘n jaar navorsing te gaan doen in Duitsland en toe het hy besluit om die hele gesin saam te vat vir ‘n jaar van ongelooflike avonture. My ma is ‘n bibliotekaresse en weet wat se boeke om te vat as jy ‘n kind moet besig hou. So kon ek en my boetie en sussie elkeen een boek kies om op die vliegtuig te vat vir die lang reis na die onbekende Duitsland. Onthou boeke is swaar goed en mens dra moeilik aan die skatkiste van die verbeelding, veral kinders wat moeg is. Maar so gesê en so gedaan kies ek toe my Sprokies vanoor die wêreld.

Sprokies vanoor die wêreld is so dik soos ‘n telefoonboek en so groot soos ‘n Huisgenoot se Wenresepte. Op die voorblad is daar ‘n skets van ‘n samoerai met ‘n gruwelike grinnik besig om sy swaard te trek. Agter hom jaag ‘n man met rooi bol wange ‘n slee met trekhonde en aan die ander kant ‘n groot seerowerseilskip oppad na die skedel wat op die voorgrond lê tussen pienk blommetjies. Die boek was vir my onweerstaanbaar. Vreeslik onheilspellend en vol beloftes van gevaarlike goed en onbekende mense en dinge. So gesê, so gedaan gaan die boek toe in my rugsakkie met ‘n kwaai waarskuwing: “Onthou, ek gaan jou nie help dra nie! “

Op die vliegtuig na die opstyg was dit tyd vir die boekies om uit te kom voor iemand ‘n scene maak van verveeldheid. Met drie kinders moes my ma maar bontstaan om almal tevrede te hou, maar gelukkig was ek heel bedeesd soos ek weggeraak het in die prente van die avonture waarvan ek deel was in my verbeelding. My lyf was oppad oorsee terwyl my gedagtes nog verder plekke oor die aardbol bereik het. Die swaar dra was toe die moeite werd.

Marthea van Belkum
Marthea was ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit