Miserella

Miserella

Fanie Viljoen
Human & Rousseau

Miserella sak grond toe, die donker deur teen haar rug, met die wind wat haar hare stringerig verby haar gesig waai. Wat haar trane droogmaak so gou as wat sy hulle kan huil.
Buite die kamer hoor sy nog Juvenis, Violenta en Laniolet se stemme. Maar sy kan nou nie meer uitmaak wat hulle sê nie. Dit smelt weg saam met die geluide in die vertrek. Die klap, skuur en kraak van meubels, die suisende wind, die grommende onheil.
En in haar kop kom daar nóg geluide, diep, swaar orrelklanke, dreunend. Die note van die Lamentum-serenade van Volaticus, Juvenis se gunsteling wat sy soms vir hom speel. Die musiek wat Volaticus vir sy vrou gekomponeer het ná haar wrede dood aan die kake van ‘n weerwolf, so word vertel.
Miserella probeer die snikke wat uit haar bors wil bars, in toom hou. Haar oë is vasgenael op die vaas met die as.
Dit word stil. Skielik. Die windjie draal net vir ‘n oomblik langer en raak dan ook weg.
Is dit verby? kom die vraag in Miserella op. Soos gister? Gaan daar niks gebeur nie? Het Mortallus dit weer nie reggekry om uit die as op te staan nie?
Vrae wat oor en oor deur haar spoel.
Maar toe! ‘n Weerligstraal. Blitsend! Van die dak af, vloer toe. Die tafel spat in stukke, splinters hout klief deur die lug. Die kerse ontplof. Hulle vlamme gaan dood, maar die kamer is nou gehul in ‘n helder wit lig, wat dring tot in elke donker skeur en vergete hoek. ‘n Geluid soos botsende treine, skeurende metaal en hartverskeurende gille.

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x