“Flippit! Dit voel asof ‘n moewiese 4×4 my bene getrap het,” hyg Hannes en val op die mat by Thomas se voete neer.
“Sis! Jy sweet so, dit stroom by jou ore uit, man! Skuif ‘n bietjie op,” sê Thomas en stamp met sy voet teen Hannes. “Hoe ver het julle gedraf?”
“Op teen Seinheuwel en weer af.” Lukas sak langs Hannes op die mat neer. “Ek dink nie ek sal ooit weer my bene kan gebruik nie. En my longe voel asof hulle gerasper is.”
“Is julle mal of wat? Was daar girls wat julle wou beïndruk?” vra Thomas.
“Hallo! Is die TV-kameras se ligte besig om jou brein te smelt, he?” Hannes sukkel regop en leun op sy elmboë. “Het jy vergeet ons het een van die dae rugbyproewe? Ek wil nie my naam ruk as ons saam met daardie graadtiens moet speel nie. Daai ouens is hectic!”
Thomas sug en gooi die draaiboek wat al besig is om uitmekaar te val op die koffietafel neer. Hy is die een wat sy naam met ‘n plank gaan slaan by die proewe. Hy het nog nie kans gehad om een keer te oefen nie. En die graadnege-kamp was omtrent die laaste keer dat hy verder as tien meter gehardloop het. Maar ten minste is dit net by die skool. As almal gaan sien hoe hy sy naam op nasionale TV vinniger as ‘n Formule 1-renmotor weggooi, sal hulle baie gou vergeet dat hy onfiks by die proewe was.