“So ‘n slymerige slak!” sis Andrea woedend.
In stilte staar ons na meneer Jacques Gouws. Sy seekat-arms is om ‘n blonde vrou gedrapeer en hulle is duidelik deur die oop venster van een van die seunskool se musiekklasse sigbaar.
“Hy vreet haar op!” sê Gina geskok en druk die blare van die struik waaragter ons staan eenkant toe.
“Gross!” Andrea staan op haar tone om beter te sien.
“Om te dink hy het gisteraand by ons juffrou Toerien in haar sitkamer gesit en koffie drink en haar hand vasgehou,” fluister ek vies.
“En hier staan hy nou sowaar en soen daai blondine,” voeg Gina by.
“Ja, asof hy nie al drie weke lank by juffrou Toerien kuier nie. Asof sy niks meer beteken nie,” sê Andrea bitter.
“En kyk, hulle hou nie op nie.” Gina skud haar kop in afgryse.”Moenie dink ek ry saam met hom terug skool toe nie,” sê Andrea ontsteld. “Ek loop liewers.”
Ek, Andrea en Gina staan buite die musieksentrum by Bergrif-Seunskool en wag vir Talita om klaar te maak. Sy oefen saam met die seunskool se band vir ‘n gig Saterdagaand. Hulle drummer is na ‘n ander skool toe en Talita het al voorheen saam met hulle gespeel.
Vies loop ons terug saal toe. Dit was sowaar die laaste ding wat ons verwag het om te sien toe ons meneer Gouws gaan soek het!
Talita en Pierre, wat baskitaar speel, kom by die saal se trappe afgeloop.
“Is julle klaar?” vra Gina.
“Ons wil loop.”
“Maar neem meneer Gouws julle dan nie terug nie?” vra Pierre.
“Ek ry nie saam met so ‘n …