“Hoekom is jy vanmiddag so op ‘n ander planeet?” vra Gerber toe die bondel drawwers begin spoed kry. Hy val langs Karli in. Hulle voete klap ritmies op die teerblad agter die pawiljoen verby. “Jy is tien minute laat – ek het amper gedink jy kom nie meer oefen nie.”
“Jy wil nie weet nie,” sê Karli en draf stadiger sodat die gaping tussen hulle en die ander atlete groter word. “Ons groep was vir redenaars by juffrou Davel.”
“Het julle toe op ‘n onderwerp besluit?”
“Ons praat oor … wag daarvoor verhoudings!”
“Verhoudings? Soos in ouens en meisies?” Gerber grinnik. “En die ander praat oor misdaad en armoede en mense wat die land verlaat. Wel, wel.” Hy lag vir haar suur gesig. “Dit kán seker cool wees!”
“Dis juis die ding.” Karli klink moedeloos. “Die ander groepe wat aan die kompetisie deelneem, het ernstige onderwerpe en hier kom ons met: Moet ‘n meisie op sewentien ‘n ou hê?”
“Jy klink nie baie gelukkig nie.”
“Ek is nie. Ek het nog nooit redenaars gedoen nie, en nou – om die juffrou uit te help – moet ek oor iets simpel praat.”
“Ag, dis nie so erg nie.”
“Jy weet nie wat mú deel van die onderwerp is nie,” sê Karli omgekrap. “My toespraak is téén vas uitgaan. Ek moet sê dat ‘n mens ouens moet …”