Zut! Zut! Zut alors!
Elle wens sy het nog Franse kragwoorde gehad om haar frustrasie mee uit te druk. Zut is maar so effentjies soos vervlaks. Sy het baie krasser taal nodig maar dis al wat hulle laas jaar by madame Faure geleer het. Die afgelope paar dae het sy haar voorraad Afrikaanse en Engelse vloekwoorde uitgeput. Niks klink meer intens genoeg as sy in stilte sit en swets nie.
Sy kyk na haar vuil tone. Elke toonnael is geskulp met ‘n dik rand swart gemors. Laas maand se pedikuur voel onwerklik en baie lank gelede. Hoe het sy haar laat ompraat om saam te kom? Maar hier sit sy: ‘n slagoffer van ‘n kampeervakansie. Korreksie! Vakansie en kampeer is wedersyds uitsluitend: of jy hou vakansie, of jy kampeer. Kampeer is iets wat jy saam met jou ma en pa en die hele hiep-hiep-hoera-brigade doen totdat jy so twaalf is. Daarna begin jy vakansie hou soos ‘n beskaafde mens: naby ‘n selfoontoring. Elle se selfoon kyk dae lank al met ‘n niksseggende swart gesig na haar. Sy probeer nogtans kort-kort ‘n sein opvang. Maar die werklikheid is wreed – hulle het die laaste mas so driehonderd kilometer terug agtergelaat. Sy is van die radar af, iewers in die diepste bosse van Botswana. Vergete…