Elle se viooltas kap liggies teen haar bobeen. Sy is laat vir die oefening en sy draf so vinnig as wat haar skoolskoene dit toelaat. Sarkoff het ‘n buitengewone oefening vir vanmiddag gereël, sommer per SMS. Hulle eksentrieke Russiese orkesdirigent het nog nie voorheen so iets gedoen nie. Sy wonder vaagweg wat so belangrik is. Seker reëlings vir hulle toer. Al vier buurskole – Gravitas-seunskool, Gravitas-meisieskool, St. Dominique’s en St. Stephen’s – speel in een groot orkes. Dit maak seker sin om almal weer bymekaar te kry sodat hulle die orkestoer kan finaliseer, dink Elle gelukkig.
Sy sien haar skaduwee op die lang muur wat na St. Dominique’s se groot hekke lei. Haar bos krulhare wapper soos linte in die wind en haar skoolserp waai soos ‘n vaandel agterna. Haar bene lyk verspot lank soos wat die laatmiddagson die skadu’s rek.
“Hei, ek lyk soos ‘n supermodel!” juig sy en skree haar nuutste Franse uitroep: “Formidable!” Sy dink dit beteken iets soos supermegawonderlik.
Sy is juis laat oor sy eers ekstra klas by juffrou Du Plessis gehad het. Dis haar Franse onnie en nommer een op haar lysie gunstelinge by die skool. Sy is steeds myle agter die res van die klas. Sy kan darem al vir Alex beïndruk met ‘n Franse SMS so nou en dan. Vandag s’n was: Tu es mon petit cochon. Gelukkig het hy nie ‘n idee dat dit “jy is my klein varkie” beteken nie. Sy lag sommer hardop. Vanmiddag voel sy so dolgelukkig, sy’t sommer haar hele pak Fritos vir ‘n straatbedelaar gegee. Sy glimlag vir die motors wat verbyry, waai vir wildvreemde ouens op fietse. Sy kry almal jammer wat nie vanmiddag Elle-Belle is nie.