Die oggendson bak op Nadia se rug. Sy staan met ‘n bewende hart op die sypaadjie voor die nuwe skool. Voor haar hand die maan nog glinsterblink, amper deurskynend. “Dis ‘n teken,” prewel sy. “Iets gaan gebeur.”
Dis wat haar ma sou gesê het as sy nou hier was. Daarna sou sy ‘n sigaret aangesteek het en diep ingedag daaraan geteug het. Die dink sou in haar oë gespeel het. Dalk sou sy haar vingers stadig deur haar hare gedraai het of aan ‘n droë velletjie op haar lippe getrek-trek het.
“Lekker boskasie,” grinnik ‘n meisie toe sy verby Nadia loop.
“Seker nuut by die skool,” sê haar vriendin. “Wag maar totdat die onnies haar beetkry.”
Nadia vat selfbewus aan haar bos hare en tree vinnig weg. Haar maag maak ‘n nare draai. Sy voel nog net so bang soos toe sy vanoggend opgestaan het. Sy raak bewus van iets grofs wat teen haar elmboog skuur. Haar asem ruk, maar dan sien sy dit is net ‘n boom se ruwe bas. Versigtig skuif sy agter die boom in en druk haar lyf plat teen die dik stam. Sy haar diep asem. “Jy kan dit doen, Nadia,” sê sy vir haarself.
Steeds angstig loer sy om die boom. Die twee meisies het deur Magoebaskloof Hoërskool se ysterhekke verdwyn. Ander kinders loop ook nou in groepies of een-een by die hek in. Ma’s en pa’s waai uit hulle motors. Helder stemme groet mekaar. Seuns lag. Meisies gesels.
Nog net daardie twee meisies het haar raakgesien. Dalk het sy onsigbaar geword, kom die gedagte by Nadia op. Kan dit wees?
Sy kyk vinnig deur die boomtakke op na die lug. As die son en die maan saam in die lug hang, kan enigiets gebeur. Dalk kan ‘n mens selfs onsigbaar word.