Leeus met letsels

Leeus met letsels

Fanie Viljoen
Human & Rousseau

Daar is bloed op Buyi se vuiste. En bloed op die ou voor hom se gesig. 
Sy naam is Jonathan. ‘n Klomp leerders drom saam om hulle in die skoolgang. Jonathan lê nog op die vloer. Hy kyk op na Buyi. Sy oë uitdagend. Hy glimlag toe hy die bloed van sy oogbank wegvee.
“Lucky shot!” sê hy.
“You want some more then?” In ‘n oogwink speel die vuishou wat Jonathan vloer toe gestuur het, oor in Buyi kop. Die spanning in sy spiere in sy spiere. Knersende tande. Die oomblik toe hulle oë ontmoet. Pyn skiet deur sy vuis en blits op met sy arm toe die hou val. 
Die spul ouens en meisies om hulle is soos ‘n trop hienas, steeds honger vir meer. 
En toe kom die onderwyser.

Daar is moeilikheid aan die broei. Buyi weet dit net. Dae lank al voel hy dit aan. Dit stoot op deur die koue, nat strate. Oral waar hy gaan, asem hy dit in: die oorvol treine van die Londen Underground, klaskamers, die koerantstalletjie op die straathoek. Dit gaan nou al vir weke so aan. En dit maak hom bang.
Dit is laatmiddag. Vrydag. Hy vat die roltrap en uiteindelik ontsnap hy uit bedompige ondergrondse treintonnels. Agter hom hoor hy nog ‘n straatmusikant se saksefoon. Die oggendreën lê steeds op die strate. Spikkels lig van die winkelvensters spieël op die nat sypaadjies, soos diamante onder die sole van die verbygaande.
Hy hoor mense se voetstappe en wonder skielik of hulle syne kan hoor, Hy wonder of hulle ooit luister, of hulle ooit omgee.
Natuurlik nie, dis Vrydag. Hulle wil so gou moontlik by die huis kom. Grys wolke hang swaar oor die stad. Dit gaan binnekort weer reën. 
Moeilikheid, dink hy. Daar is beslis moeilikheid aan die broei.
Die benoude vrees maak dat hy sy pas versnel. Hy soek na troos in die warmte van sy baadjie, in die bekende omgewing, die mure oortrek met graffiti. Maar die onrustigheid bly op sy hakke. Dit jag hom soos ‘n dier.
Terwyl hy loop, vang sy oog die weerkaatsing in ‘n winkelvenster. Swart gesig, kake geklem van die koue. Die sny op sy lip. 
En hy voel soos ‘n vreemdeling.
Hoekom? Hy woon nog sy hele lewe lank in Londen. Hy bly hier saam met sy ma in ‘n tweeslaapkamer-woonstel bo die bakkery. Hy gaan hier na ‘n staatskool toe. 
Maar op ‘n manier ís hy ‘n vreemdeling.
Buyisiwe. Sy naam eggo in sy kop. ‘n Vreemdeling se naam. Hoekom nie James, Chris of Peter nie? Of dan selfs Jonathan? Hoekom nie enige ander naam soos die meeste ouens in die skool nie.

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x