“Spookkrappe?” Elle klik vererg haar tong. “Spook soos in spookasem?”
“K-k-korrek. Spookkrappe,” antwoord haar oom en druk sy bril terug op sy neus. “Oxypode cursor.”
Elle se oom Eddie is enig in sy soort. Hy is op ‘n manier superslim, maar op ‘n anderster, verstrooide manier. Die mediese naam vir sy toestand is Asperger-sindroom – ‘n ligte graad van outisme, sê haar pa.
Eddie werk in die dierkundelaboratorium by die universtiteit. Hy is gek oor als wat koudbloedig en grillerig is: van dodelike skerpioene tot harige spinnekoppe. Maar spookkrappe?
“Komaan Eddie! Ek mag blond wees, maar ek ‘n paar breinselle. Wat gaan jy regtig in die woestyn maak?”
“D-d-die spookkrappe van Skedelkus tel. F-f-feite! O-o-oxypode cursor is die wetenskaplike naam!”
Hy glimlag skamerig maar vernaam. “Professor Hay het my gekies om die eerstejaars te lei.” Die sin glip vlot uit. Hy bloos. “En j-juffrou Geertsema gaan saam. Sy gaan my a-a-assistent wees,” kry hy dit uit met gloeiende wange.
Eddie se nuwe bril gly oor sy neus af. Sy vorige bril is vir maande lank met pleisters aanmekaar gehou.