Ons sit in Bamboesbos Pizzeria. Dis natuurlik ek, want in my lewe speel niks af sonder date k die middelpunt daarvan is nie; dis maar een van daai dinge.
En ek is een met die naam wat al hoe meer mense deesdae reg uitspreek, al vrees ek die skade is reeds gedoen deur die miljoene kere wat ek “Sioebên” genoem is. Dis “Shiwon”, my magtig, dis hoe mens dit sê, met ‘n w soos in witwarm-klap-as-jy-weer-my-naam-verkeerd-kry.
My naam is seker veronderstel om ‘n eksotiese element in my lewe te wees. Of dalk moes dit my geduld leer, want ek moes al baie mense reghelp.
Ek gee die ander twee van “ons” die skuld vir my gesukkel as kind: Koert, die gryskop man aan my linkerkant wat hom my pa noem en nog steeds vertel hy was by met my geboorte, maar darem nie meer vertroulik ná ‘n drankie fluister: “Ek kon nie glo dis my kind se kop nie” – en Alta, die oorspronklik swartkop vrou aan my regterkant wat haar hare blond kleur en haar my ma noem, maar soms (ek is amper seker daarvan) ontken sy het geboorte aan my gegee.
Want my maniere is darem net te erg, sal sy sê wanneer ek krapperig voel en wens die hele blerrie wêreld wil net uit my kamer bly. Dan wil ek niks en niemand sien nie en veral nie mense wat vir my probeer verduidelik waarom ek niks en niemand wil sien nie.