“Jy moet ingaan, Elle.” Alex se stem is skaars hoorbaar bo haar kop. Sy voel hoe sy vingers stywer om haar boarms klem en haar wegtrek van sy bors af.
“Nog net ‘n rukkie,” prewel sy teen sy klam hemp en hou haar doof vir die skoolklok se tweede lui. Met die derde lui, oor presies vyf minute, begin die skooldag amptelik. Sy het net 300 kosbare sekondes oor.
Elle weet sy moet laat los. Sy wéét sy moet laat los. Sy wéét hy moet gaan.
Maar haar vingers wil nie na haar brein luister nie. Sy’t twee vuiste vol van sy hemp en klou daaraan soos ‘n drenkeling aan ‘n reddingstou. Alex het ‘n vlug Kaap toe om te haal. En dan ‘n boot na die einde van die aarde. Wie weet wanneer sy hom ooit weer gaan sien. Óf ek hom ooit weer gaan sien.
“Elle, jy móét nou gaan. Regtig. Daar kom Bender en haar hele army met swart jasse. Komaann, Elle. Die jaar gaan vlieg. Voor jy weet, is ek weer terug. Kom nou…” Alex se stem is paaiend, maar sy hoor die randjie van ongeduld wat begin deurslaan.
“Goeiemore, mevrou Bender, more, juffrou Coetzee, more mevrou Koopman,” begin hy die onderwysers agter haar groet.
Elle los Alex se hemp en swaai om. Sys totter ‘n “More, mevrou Bender” uit en vee haar gesig vinnig met die agterkant van haar baadjiemou af. Voor haar stap die akademiese prosessie van die skool se personeel verby. Hulle is oppad saal toe. Dis Dag 1: die eerste skooldag van die nuwe jaar. Die eerste dag van grad elf vir Elle. En die laaste dag van Alex in haar lewe. Vir ‘n baie, baie lang tyd.