Ek wens ek het ‘n kêrel. Ek wens ek kan hom in my kas aan ‘n klerehanger ophang. Dan kan ek hom uithaal net wanneer ek wil. Hy sal na my kyk asof ek beeldskoon is, nes ouens in flieks na meisies kyk. Hy sal hard asemhaal terwyl hy sy leerbaadjie uittrek en sy belt losmaak. Hy sal so aantreklik lyk in sy wit onderbroek date k amper wil flou val. Dan sal hy my klere ook uittrek. “Kara,” sal hy fluister, “ek is lief vir jou. Ek is so flippen life vir jou. Jy’s so sexy.”
Ek sit regop en skakel die bedlampie aan. Ek kry ‘n pen op die tafeltjie langs my, maar nie papier nie. Ek wil ‘n ou se lyf op myne voel, skryf ek agter my op die muur. Ek lê terug en kyk deur die venster. Buite is die lig nog donkergrys en rooi. Dit lyk asof die dag besig is om dood te bloei.
Ek ruik wors wat braai. Pa maak elke Saterdagaand wors met kapokaartappels, uie en koolslaai. Hy en Tian eet dan saam voor die televisie. Tian sal die Lotto-kaartjie wat hy en Pa elke week invul byderhand hê. Pa sal van een kanaal na die ander oorskakel om ‘n gepaste gesinsfliek te soek. Na fliek sal Tian gaan bad en bed toe gaan. Pa sal tot laat in die nag bier drink en skelm buite gaan rook.
Pa het vroeër my gordyne ko ooptrek. “Kyk hoe ‘n mooi dag het jy gemis!” het hy gesê. Sonlig het deur die venster gestroom. Ek kon die bome teen die blou lug sien. Ek kon pa se silhoeët met sy hande op sy heupe sien. Hy het soos ‘n superheld gelyk.
“Hoe kan ek jou help as jy nie met my wil praat nie?” het hy gevra en op die bed se voetenent kom sit. Ek het my asem opgehou. As mens dit lank genoeg doen, dans daar wit ligte voor jou oë rond. Pa het vooroor geleun en my kopvel saggies gemasseer.
“Haal asem, Kara,” het hy gefluister.