“Estelle!” roep my ma uit die kombuis.
Ons nuwe aaklige giggelgeel kombuis.
Ek maak of ek nie hoor nie. Dis seker nie regverdig dat ek vir haar vies is nie, maar ek kan dit nie help nie. Dis eintlik my pa se skuld dat ons hierheen moes trek. My ma kry te skaam om langer tussen al die ryk mense te bly.
Ek is besig om ʼn toer te doen deur die huis wat my ma vir ons gekoop het. ʼn Drieslaapkamerhuis met een badkamer, in een van die goorste buurte op die dorp.
“Estelle!” bons my naam weer teen die mure van die leë huis.
“Ja, ma, ek kom!” sê ek en skud my kop voor ek kombuis toe marsjeer.
“So, wat dink jy – gaan ons lekker hier bly?” vra Ma met ʼn glimlag wat net so ʼn klein bietjie te groot is. Ek weet sy probeer dapper wees. “Het jy al besluit watter kamer jy wil hê?
“Ek skraap al my moed bymekaar en dwing ʼn glimlag op my gesig. Ek is seker sy het in die aand na die huis kom kyk. Dit kan al rede wees waarom sy gedink het dié huis en dié buurt was ʼn goeie idee.
“Ek dink ons gaan heerlik hier bly, Ma,” probeer ek haar verseker. Miskien probeer ek myself ook sommer ʼn bietjie moed inpraat
Ek weet my ma probeer vir ons die beste doen onder die omstandighede en ek sal beslis nie die een wees wat ʼn mes in haar hart gaan steek omdat ons nou in ʼn huis met vuil matte en vrot plafonne moet bly nie.
Ek vee oor die vensterbank en gluur na my vuil vinger.
“Dis net stof, dit kom skoon met seep en water, Estelle,” sê Ma.
“Ek vat sommer die laaste kamer, daar agter in die hoek, dan sal my musiek ma nie pla nie,” sê ek.
Ek het nie die moet om vir haar te sê wat ek regtig van ons nuwe huis dink nie. Hoe sê ek vir haar dat die plek vir my aaklig is en dat ek nie die eerste kamer kies nie oor daai kol op die mat? Dit lyk asof iemand sy polse daar afgekou en op die mat uitgebloei het. En die badkamer is seegroen-en-pienk. Die beste manier om hierdie kasarm mooi te maak, is om dit af te brand, as jy my vra.