Hartklop

Hartklop

Cecilia Steyn
Human & Rousseau

“Ai, Ma. Ma moes nie,” sê ek toe ek my tas in die kamer neersit. Ek glimlag. My ma het sowaar vir my die beddegoed en nuwe gordyne gekoop en my saai ou meubels ʼn welverdiende lagie wit verf gegee.

Ek streel oor die sagte wit duvet met pienk en pers satynskoenlappers. Dis pragtig. Op my spieëlkas, langs ʼn foto van my pa, broer Stefan en myself, staan ʼn potjie varsgeplukte rose.

“Dankie, dit lyk nes ʼn prentjie uit ʼn boek,” sê ek en gee my ma nog ʼn soen op haar wang.

“Ag, my kind, ek sien jou heeltemal te min, ek moet jou mos ʼn bietjie bederf,” sê Ma terwyl ek my skouers optrek en diep inasem. Dis so lekker om by die huis te wees. My ma het klaar my vensters wyd oopgegooi sodat ʼn ligte seebries nou deur my kamer trek.

“Pak solank jou tas uit, dan gooi ek vir ons iets in om te drink,” sê Ma. “As jy klaar is, kom kombuis toe.”

Ma se voetstappe verdwyn in die gang af terwyl sy saggies neurie. Sy is duidelik bly een van haar kinders is al by die huis vir die Desembervakansie.

My ma bly al die afgelope twee jaar, vandat sy en my pa geskei is, op Paternoster. Sy het vir haar ʼn oulike kliphuis met blou-raamvensters gekoop. Die plek laat my aan ʼn huis in ʼn sprokiesverhaal dink, al verskil is dat die huis ʼn asemrowende see-uitsig het.

Sy en my pa het besluit dit sal beter wees om elkeen sy eie gang te gaan en ons kinders die alewige bakleiery te spaar. As hulle nie oor my pa se lang ure op kantoor vasgesit het nie, was dit die veranderinge aan die huis, of watter kleur motor hulle moet koop. Op die ou einde was elke besluit wat geneem moes word ʼn toutrekkery.

Om die besluit vir my ma en pa maklik te maak, het ek gekies om in Johannesburg by my pa te bly en skool daar klaar te maak. Ek het graad elf onder die knie en volgende jaar is ek in matriek.

My broer Stefan, is na skool Stellenbosch toe om regte te swot. Hy het sopas sy tweede jaar voltooi. Meer as een akker het al op sy kop geval, so hy is deur en deur ʼn Matie.

My het niks gesê nie, maar Stefan sal seker môre kom. Ek hoop hy bring ʼn vriend saam. Ek het een spesifieke vriend in gedagte. Dewald Malan. Vandat ek kan onthou, is ek verlief op Dewald.

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x