“Jippedie!” Elle wip oor die punt van die leer en begin net daar op die stowwerige stoepie dans. Sy gooi haar kop agteroor en bal haar vuiste in die lug.
“Ons het dit oorleef!” As sy net Refilwe se ritme gehad het, dink sy en wikkel haar heupe, dan het sy haarself nou uit haar plakkies gedans en ‘n wilde oorwiningsriel losgetrap.
“Jippediedoeda, jippediedei …”
“Probeer jy toi-toi of probeer jy tango? Dit werk nie, hoor.” Refilwe gaap en klap met haar plat hand op die blad langs haar.
“Kom sit voor jy seerkry.”
“toemaar, ou sonskyn. EK plak my net hier neer.”
Elle sak met ‘n salige kreun plat op die warm balkonvloer neer. Sy glimlag vir die dak van fyn jakarandablaartjies bo haar kop. Sy kan haar eerste groot taak as hoofmeisie aftik: die Groentjiekamp. Dit is kant en klaar; oor en verby.
“Ek maak sommer ‘n sementengel,” sê sy en strek haar arms wyd oop om soos vlerke bo die warm stoep te vlieg.
Sy voel hoe die hitte van die sementblad die knope uit haar seer nekspiere loswikkel. Dit is asof al die spanning en min slaap van die laaste twee dae soos heuning al langs haar rugwerwels afkruip en by die punte van haar kaal tone uitloop. Sy skop haar bene saam met haar arms uit.
Whap!
Sy voel hoe haar linkervoet iets solieds tref.
Dis ‘n gespierde bobeen.
“Oeps!”
“Hei, jy! Gaan vlieg op ‘n ander plek,” knor Refilwe en vryf haar been.
“Part mense het niks laasnag geslaap nie. Hierdie babasittery is vir die voëls.” Refilwe gaap nog ‘n keer en maak haar oë toe.
“Terwyl party mense geslaap het, moes ek wagstaan.” Sy druk ‘n toon beskuldigend in Elle se sy. Dan klik haar tong smakkend.
“My mooie metatarsus! Laat daar geskryf staan dat die groentjie wat by Refilwe Kgabo verbykom, nog gebore moet word.”
Elle lag. Refi se nuwe uitroep, wat sy spesiaal vir die Groentjiekamp uitgedink het, kom uit hul lewenswetenskappe-handboek. Metatarsus in net die Latyn vir voet, maar in refi se mond word dit ‘n woord wat vibreer met emosie.
Refilwe is meer lawaai as wol, maar dit hoef die nuewelinge nie nou al te weet nie.