“Oee-ee!” gil Nomsa langs my. “Die hele plek gaan afbrand!”
Oepsie. Ek het genuine nie bedoel om die hotel se dak aan die brand te steek nie. Ek het na die houtteiken gemik en net toe ek dink die oog-ding gaan nie werk nie, kyk ek na die hotel se kant toe en toe werk dit. Soort van per ongeluk.
“Wat de hel het jy aangevang, Kali?” Leonardo gooi sy hande in die lug terwyl weerlig in sy swart oë blits.
Net daar strip ek my moer totally. “Dink jy ek het dit aspris . . .”
Ek skrik die res van my woorde weg toe ‘n weerligstraal die deel van Poveglia-eiland verlig waarop ons veronderstel is om ons Kragte en Magte te oefen. ‘n Sekonde daarna volg ‘n donderslag wat die mense seker tot op Venesië se Sint Markus-plein kan hoor.
Dan begin dit reën soos dit seker laas gereën het nadat Noag die lot diere in die ark gelaai het.
“Jy kan bly wees die reën blus die vlamme en red jou gat,” blaf Leonardo.
Hy’s al die hele dag so blafferig – seker omdat ek vanoggend vir hom gesê het ek kan nie nou saam met hom of, for that matter, enige ander ou op die planeet ‘n item wees nie, want dit interfere met my duties as Bewaker.
“Kom ons Reis liewer terug hotel toe!” roep Leonardo se niggie, Adriana, in Engels uit en gryp Caleb se hand.
Jason, Caleb se tweelingbroer, sit sy arm om Nomsa se skouers.
“Wag, ons gaan saam,” sê hy ook in Engels, maar met ‘n baie sexy Amerikaanse aksent.
Poef! Poef! Verdwyn die twee couples en los vir my en Leonardo en Tara alleen.
“Leonardo, I think you did it!” roep Tara uit terwyl sy ‘n nat haarsliert uit haar gesig vee.
“Wat bedoel jy?” vra Leonardo fronsend.
“You made it rain. Om die vuur dood te maak.”
Leonardo skud sy kom. “Nee, ek dink nie so nie.”Iets is weird. Ek trek my oë op skrefies. Ek en Tara is al papnat gereën, terwyl daar nog nie ‘n druppel van ‘n dag oud op Leonardo geval het nie. Net soos toe Tara ‘n paar dae terug ‘n hengse wind veroorsaak het terwyl daar nie eens een haartjie op haar kop geroer het nie.