Die teer flits eindeloos grys verby. Ek kyk hoe die afstand tussen my en als wat saak maak – wag, als wat saak gemaak hét – al hoe groter word. Die stilte hang swaar in die kar. En dis nog ten minste vier uur tot in Paarl.
“Lisa…?” vra ma huiwerig.
“Flippet. Hier kom dit.”
“Ek wil nie so op die vliegtuig klim nie. Praat met my, toe? Hoekom is jy die laaste maand so in jouself gekeer?”
Ek stik amper in my Tab.
“Hallo-o-o?”
Sy sug. “Ja, ja, ek weet.” Sy tik haar vingers op die stuurwiel: “Pa, ballet, ‘n nuwe skool, dat jy by Ouma moet gaan bly. Maar hoekom voel dit asof jy vir my kwaad is? Ek het ook nie gekies dat dinge so moet uitwerk nie! Maar alles in ag geneem, en veral dat jy nie langer daar wou bly nie, is it tog ‘n heel aanvaarbare alternatief?”
Haar stem is besig om onheilspellend te klim. Ek sal iets moet sê.