Dis nog donker toe Nicci Rust se foon onder haar kussing begin biep. Sy vat die knoppie die eerste keer raak en druk dood. Sy gaap en rek haar uit, klik dan die bedliggie aan.
Gemmer roep op haar voete. Hy kap een klou waarskuwend in haar kuit en skakel sy spinenjin hard aan.
“Eina, Gemmer!” Sy trek haar voete vinnig onder sy warm lyf uit, vryf haar kuit met die een hand en die knorrige kat se kop met die ander een. “Is dit nodig om so vreeslik te frons? En om my gladde been so te bekrap? Sies, man.”
Sy bekyk die skade: Gemmer se nael het sy merk in ‘n fyn bloedstrepie gelos op die kuit wat sy gistraand seepglad gewax het.
Niks wat ‘n bietjie spoeg nie gaan gesond maak nie, troos sy haarself. En sy weet mos teen die tyd: Koning Gemmer verdra nie ‘n gewoel vroegoggend nie. Hy’s net so oud soos sy, maar op amper sestien is hy ‘n waardige ou man vol nonsens.
Hoe oud sou hy in katjare wees? Seker tagtig.
Sy leun oor en vat-vat net aan die vet geel boekie op haar bedkassie. “Ek gaan jou nou-nou in vrede los, my ou Gemmerman. Net gou ‘n stukkie lees en ek’s weg. Sjjjjt. Toe, slaap maar verder.”