Maandagoggend kom meneer Vos soos ‘n laksman in die paadjie afgestap, besig om ons rekeningkundetoetse uit te deel.
My palms is al klaar natgesweet. My maag maak ‘n draai. Toe hy by my
tafel stop, vryf hy oor sy snor. Nooit ‘n goeie teken nie. Met ‘n
simpel glimlag sit hy my gemerkte toets triomfantelik voor my neer. Ek
draai dit dadelik om voor iemand die punt kan sien. Ek is self te bang
om te kyk.
Voor in die klas roep Beula opgewonde, hard genoeg vir almal om
te hoor: “Volpunte! Ek het dit nou nie verwag nie.” Blah. Natuurlik het
sy. Beula gooi haar swart poniestert oor haar skouer. Pleks doen sy ‘n
bietjie iets anders met haar hare, maar dit lyk elke dag presies
dieselfde … asof sy nie ‘n verbeelding het nie.
Dis ‘n wonder sy’t nog nie ‘n boggel van al die balkies wat aan
haar skoolbaadjie gespeld is nie. Party is sommer vir stupid goed soos
behulpsaamheid. Meer soos gatkruip as jy my vra. Daarvoor sal sy baie
balkies kan kry.