Willemien en die Hê-monster

Inge Janse van Rensburg
“Willemien! Het jy jou tandeborsel ingepak? Jy moet opskud, ons gaan laat wees!” roep haar ma in die gang af.

Deel 3

Willemien spring weg en draf nader… “Jy kan nie kinders eet nie! Jy gaan pyn op jou maag kry!” sê sy kwaai. Die gedierte kyk na haar en mompel “He, hê, hê… YUM…” Willemien gaan staan voor hom en wys, nes haar ma altyd as sy raas, met haar vinger na die gedierte “Dit is baie lelik van jou om net alles te wil hê! Jy gaan nooit maats maak nie! Jy is sommer regtig ‘n nare, stoute, boelie gedierte!”

Die gedierte kyk Willemien net fronsend aan en verlig sien Willemien hoe hy terugdraai na die koorklere en verder daaraan eet.

Sies vir jou! Ons gaan aan ‘n kompetisie deelneem en jy verslind ons koorklere! Wat gaan ons nou doen? Dit is baie ongeskik van jou om vreemde mense se klere en instrumente te eet! Skaam jy jouself nie? En ook, jy kon ons laat verongeluk het toe jy sommer net so voor die bus ingeloop het! Het jy nog nooit gehoor van maniere nie?”

Die gedierte kyk nou weer vir haar en sy sien hoe hy die koorserpie wat hy besig was om te eet terugsit… Sy word effens bang… Dalk het die gedierte tog nou besluit om dan maar eerder vir haar en Bennie te eet!

Die gedierte kom nader… Willemien luister en tot haar verbasing snik die gedierte! Willemien voel sommer baie sleg en kry hom vreeslik jammer…

“Moenie huil nie… Jy kan van my broodjies kry? Wag net hier!” beveel Willemien.

“Mmmoenie my aaa alleen los nieee…” hoor Willemien Bennie se stem bewerig agter haar aankom toe sy by die bus in draf. Sy gryp haar padkossakkie en kry twee broodjies en ‘n appel. Net toe wil omdraai en terug gaan, sien sy die sjokolade op Bennie se sitplek, sy vat dit sommer ook. Juffrou Nadia staan steeds grootoog langs haar sitplek.

Toe sy weer buite kom staan Bennie steeds ook bewend voor die gedierte, sy sien ingenome dat hy regtig bang is, die boelie! Die gedierte is ook net daar waar sy hom gelos het, tussen flentertjies koorklere langs die bus. Willemien gee haar broodjies, die appel en laaste die sjokolade aan, sy hoop maar dat dit genoeg is… Sy het nie eintlik nog iets om te gee nie. Een, twee, drie en net so is al die kos gulsig deur die gedierte verorber. Willemien wil nog iets sê, toe die gedierte net glimlag, omdraai en in die nag verdwyn.

Willemien hoor juffrou Nadia se stem onseker roep: “Willemien, Bennie, kom ons maak spore voor die gedierte besluit om terug te kom!”

Dit is tyd om aan te gaan, anders gaan hulle baie laat vir die kompetisie wees! Willemien druk vinnig die deur toe waar die klere en instrumente gebêre word, hulle sal later ‘n plan maak oor Bennie se tamboeryn. Willemien gryp Bennie aan sy arm en sleep hom terug bus toe. Juffrou Nadia gee haar skouer ‘n drukkie terwyl sy sê: “Dit was baie slim en braaf van jou, Willemien!”

Die busbestuurder is gelukkig ook weer reg na sy floute agter die stuur en terwyl hulle stadig wegtrek, trek Willemien vir Bennie terug na waar hy agter haar sit.

“Asseblief moenie vir die ander vertel ek was so bang nie…” vra Bennie skamerig.

Dit gee Willemien ‘n blink plan!

“Ek sal nie, as jy belowe om my nie meer te boelie nie. As jy nog een keer aan my hare trek of my tart oor my naam, vertel ek vir almal van bewerige bang Bennie wat die gedierte gesmeek het om hom nie op te vreet nie!”

“Ek belowe ek sal jou nooit weer boelie nie, Willemien,” kom dit skaam van Bennie.

Willemien draai weg en gaan sit weer op haar plek. Wat ‘n avontuur! Haar ouers gaan dit nooit glo nie! En, wat nog van die ander maats op die bus? Darem is Bennie, juffrou Nadia en die koorklere wat weg is, daar om haar storie te staaf.

Net voor sy aan die slaap raak, loer sy af na die prentjie van die gedierte in haar grillerboek. Dit lyk nes die gedierte waarmee hulle nou net te doen gehad het… ‘n HÊ-monster lees sy… Nee, kyk, die gedierte was verseker ‘n HÊ-monster.

Die bus skud effens, Willemien probeer by die venster uitkyk maar dit is te donker. Al wat sy wel kan sien is iets groen wat in die maanlig blink, dit lyk soos die HÊ-monster wat agter aan die bus vasklou!

Inge Janse van Rensburg
Die storie is geskryf deur Inge Janse van Rensburg. Inge is ‘n skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2016.
Kopiereg Kopiereg: Inge Janse van Rensburg.
Illustreerder: Henrico Greyling
0
Would love your thoughts, please comment.x