Hans Christian Andersen het sy lewe ’n feëverhaal genoem. Hy het uitgestyg uit die obskuriteit van die agterstrate om een van die mees bekende mense ter wêreld te word. Maar, soos Naomi Lewis in haar inleiding uitwys, sprokiesverhale het ook ’n donkerder kant. In die werklike lewe was Andersen geplaag deur self-twyfel, finansiële onsekerheid en tandpyn – net soos die karakters in sy verhale wat blootgestel word aan beproewinge, doringwoude en onbestygbare berge van glas. Maar dit is juis hierdie donker momente wat van die onvergeetlikste aspekte in Andersen se werk is.
In totaal het hy 160 verhale geskryf. Dertien van die bestes is in hierdie versameling saamgevat, insluitende Die prinses en die ertjie, Duimelientjie, Die keiser se nuwe klere, Die meerminnetjie, Die lelike eendjie en natuurlik, Die Sneeukoningin. Ook minder bekende verhale soos Die kruidenier se kabouter en Die vlieënde trommel figureer ook.
En nou lê ’n wêreld oop om verken te word. Een wat gekenmerk word deur Andersen se onweerstaanbare humor, sy bekoorlike narratiewe styl, sy meesterlik vermoë om ’n stem te gee aan dinge. Die briljantheid van hierdie werk staan onaangeraak deur tyd.