Moet ’n meisie op 17 ’n ou hê? Dit is die vraag waaroor Karli moet kopkrap vir die komende debatkompetisie. Maar in werklikheid is die debat op die oomblik die minste van haar bekommernisse. Daar is soveel ander vrae waarmee sy worstel … Wat op aarde gaan tussen haar ma en pa aan? Hoekom is haar pa weg, sommerso sonder om te verduidelik wat aangaan? Waarom is sy en haar ma deesdae soos twee vreemdelinge vir mekaar? En dan is die Valentynsbal ook nog om die draai. Moet sy maar saam met Juan gaan, al irriteer hy haar meeste van die tyd? Of moet sy ’n kans waag met Stefan, die aantreklike donkerkop met die bruin oë, wat probeer om haar seerkry met pers blommetjies minder te maak?