Ons maak weer kennis met die lewenslustige Kobie Malan wat (soos altyd) in talle skoolavonture betrokke is en dikwels na Wessie, oftewel die hoof, juffrou Van der Westhuizen, se kantoor gestuur word. Kobie is nou reeds ’n senior en een van die graad elf-prefekte. Dit is nie lank nie of sy is weer besig om iemand te help. En vir Kobie beteken dit dat sy self in die proses in die moeilikheid kom! Daar is hierdie keer nie ’n nuwe meisie of ’n wonderkind om Kobie en die kosskoollewe op sy kop te keer nie, maar daar is wel ’n nuwe onderwyseres. Ons maak weer kennis met die onhebbelike Drie Musketiers, met Allegra en Carla Willemse; selfs met een van die onderwysers van die plaaslike seunskool, waardeur Kobie se jonger broer Fanie, teen sy sin, ook in die kaskenades van die meisieskool ingesleep word. Met Kobie aan die voorpunt, raak ons weereens intens betrokke by die meisies van Maasdorp.