Deel 2
“Uitgekies het vir wat?” vra ek vies.
“Om die volgende kaptein van die Vlieënde Hollander te wees!” kondig hy kliphard aan asof dit die grootste eer ter wêreld is.
“Moenie so hard praat nie, jy sal my sussie wakker maak.”
Hy steur hom duidelik nie aan my nie, want hy gaan net so luidrugtig voort.
“Kom, kom ons gaan na my skip toe. Ek moet jou eers touwys maak voor ek kan doodgaan.” Voor ek my kom kry sluit die wit bene van sy hand om myne en hy sleep my deur die huis tot in die agterplaas. Buite flikker een of twee van die straatligte, maar die res is al vir maande lank nie vervang nie. “Laat ek jou voorstel aan die Vlieënde Hollander. Is sy nie ‘n pragstuk nie.”
Daar in die lug sweef ‘n skip met swart seile en ‘n kraai kras onheilspellend waar hy al om en om bo die skip draai.
“Ja nee, een uit ‘n miljoen.”
Die arme swaap is so behep met sy skip hy hoor nie eers dat ek hoogs sarkasties is nie. ‘n Verflenterde touleer word vir ons afgegooi en die kaptein klim sukkel-sukkel daarmee op en beduie met ‘n groot glimlag dat ek ook nou met die ding moet opfoeter.
“Dis tyd vir ‘n nuwe touleer, hierdie een is al lankal oor die muur,” sê ek toe my voet vir die hoeveelste keer rukkerig heen en weer swaai.
“’Dit was die oorspronklike leer van die skip en hy sal nie vervang word nie,” antwoord die kaptein beslis.
Ek steek my hand uit en trek myself oor die reling. Toe ek regop kom laat gly ek my oë oor die dek. Die planke is plek-plek stukkend, een van die maste is middeldeur gebreek, maar net so op die dek gelos. En die wind fluit onheilspellend deur die gate van die seile.
“Ja nee, g’n wonder dis tyd vir ‘n nuwe kaptein nie. Hierdie een sal die skip laat vergaan,” mompel ek.
“Wat sê jy daar,” vra die kaptein hard langs my oor.
“Nee, niks nie kaptein, ek hou baie van jou skip.”
Ek klink net soos een van daai patete op tv wat op heterdaad betrap is, maar gelukkig sê die kaptein niks verder daaroor nie.
“Kom, dat ek jou jou toekomstige kwartiere gaan wys.”
Ons stap in ‘n gang af, verby die kombuis waar die skottelgoed tot teen die dak opgestapel staan. Ek kan die helfte van ‘n groot pot op ‘n stoof sien en binne in kook daar ‘n groen brousel waaroor ek liewers nie my verbeelding wil laat gaan nie. Die bedompige reuk van soutwater gemeng met stink vis slaan in my neus op. Hoe verder ons in die gang afloop, hoe donkerder word dit, net ‘n paar dowwe lampies se geel lig breek die donkerte effens.
“Hoekom sien ek niemand anders op die skip nie, waar is die bemanning?” vra ek.
“Ek sal hulle netnou gaan haal. Jy is braaf ou seun, maar ek loop nog die risiko dat jy gaan weghardloop as jy hulle ontmoet. Ek wou hulle nie dadelik op jou loslaat nie.”
Liewe ouers, hoe erg kan hulle nou wees?
Aan die onderpunt van die gang stamp die kaptein ‘n swaar houtdeur oop. Dis die enigste deur wat darem nog ‘n slot aanhet.
Die deur swaai oop en kap hard teen die muur. ‘n Verwaarloosde lessenaar met hordes seekaarte staan in die hoek. Soos ek instap, sien ek ‘n onopgemaakte bed, waarvan die lakens geskeur is. Voor die venster hang ‘n verflenterde gordyn wat die wind slangagtig vorentoe en agtertoe laat kronkel.
“Dit is nou jou kwartiere,” bring sy donderweer stem my weer terug uit my gedagtewêreld.
“Maar wie het gesê ek wil kaptein word?” vra ek ontsteld, maar die kaptein antwoord my nie eers nie. Hy loop net weer met die gang op en sover as hy loop, gooi hy die kamers se deure oop.
“Kom jy?” vra hy doodrustig voor hy om ‘n hoek buite my sig verdwyn. By een van die deure steek een van die bemanning se koppe uit. Daarna nog een en nog een.
Alleen gaan ek nie hier bly nie!