(Annelie kom haar kamer binnegestorm, baie opgewonde. Sy spring op en af, sy het ‘n brief en blomme in haar hande.)
Yes! Yes! Yes!
Die wonderlikste hunk van die skool, die man van my drome het my voorgekeer na skool. Nie sommer net vir chat nie, maar met ‘n brief en rooi rose. Gelukkig was hy haastig op pad atletiekoefening toe, en het hy hopelik nie gesien hoe my hart in overdrive gaan en ek byna in floute verval nie, en hoe ek daarna byna oor my voete val om gou genoeg by die huis te kom sodat ek die brief kan lees nie. Is hy nie ‘n absolute romantic nie? (Sy gaan sit, sit die blomme langs haar neer en vou die velletjie papier oop en lees)
All my life was scattered wide,
I felt useless deep inside.
But everything fell in place,
the moment I saw your face.
All of life’s mysteries made sense to me
though there are always more to be
I thought that I would be incomplete for ever,
you came along, and all was right.
Die man is nie net lieflik nie, hy skryf nog gedigte ook. Die wonderlikste woorde, en dit alles net vir my!
(Sy stap na die spieël en bestudeer haar gesig). Ek wonder of hy gesien het hoeveel nuwe sproete die somerson die afgelope tyd op my gesig laat verskyn het? Die enigste voordeel van sproete is dat die puisies minder opsigtelik is, maar vir die res…! Miskien sal hulle nie sien as ek van nou af onderlaag aansit skool toe nie, en dan kan ek darem die meeste van hierdie sproete wegsteek.
(Sy draai sywaarts voor die spieël) Sou hy dalk gesien het dat my boude heelwat groter geword het in die laaste tyd. As ek tog net nie so ellendig baie versot was op tjoklits nie. Miskien hou hy van ‘n girl met ‘n bietjie vleis om die heupe. Ek het al gehoor party ouens hou van ‘n meisie met ‘n bietjie vatplek, maar nie Gerhard nie. ‘n Man met ‘n lyf soos syne, soek verseker ‘n meisie met ‘n silwerdoeklyf, ek sal eenvoudig moet diet.
(Sy draai terug na die brief en die blomme) Byna vergeet ek die lieflike rose. Hulle moet dadelik in die water kom, want hierdie blomme moet vir ewig hou. Miskien kan ek nadat ek die blomme in die water gesit het ‘n paar oefeninge vir die boude doen, eerder as weg te lê aan die Aero wat Ma gister by een van haar kliënte gekry het.
(Sy gaan sit die blomme in die water en neem daarna ‘n posisie op die knieë en hande in vir die oefeninge wat sy gaan doen. Sy begin met die oefeninge) Een, twee, drie, vier… Agge nee, kyk net hoe dril my boude, dit is sowaar erger as wat ek gedink het.
(Haar selfoon lui, en sy spring op om dit te antwoord) Hallo, dis Annelie. (oomblik stilte, met ‘n harde stemtoon) Hallo? Ek kan jou nie mooi hoor nie, sit die musiek tog bietjie sagter. Dis beter.(stemtoon verander) O, is dit jy Gerhard? Dis nou ‘n verrassing! Ek wou juis… (haar gesprek word onderbreek, sy luister ‘n oomblik in verslae stilte) Jy het wat?! Jy het die brief en blomme namens Vaatjie aan ‘n meisie gegee, en toe gee jy dit nog aan die verkeerde een ook. Julle is absoluut disgusting!
(Sy druk die foon dood, ruk die blomme uit die water en vertrap dit op die grond en skeur die brief in stukkies) En ek wou nogal vir die idioot diet! Hoe stupid kan ‘n mens nou wees! Dankie tog vir Ma se kliënte wat gereeld vir haar tjoklits gee. ‘n Aero gaan darem nou heerlik smaak, vergeet die maer boude!