(Raadt staan voor sy stoel terwyl hy die mense in die klas aanspreek. Hy beweeg rond na elkeen van hulle toe om hulle aandag op hom te vestig. Sy stem wissel soos die van ‘n goeie spreker. Alhoewel die woorde baie sarkasties is, straal Raadt steeds ‘n tipe van ‘n professionele beeld uit.)
Goed. Goeie dag julle. Welkom by die karakterontwikkeling, selfontdekking en selfverbeteringsklasse. Vir die van julle wat nog nie voorheen hier was nie, my naam is Raadt. Raad-op-met-julle.
Ek gaan vandag bietjie met julle gesels oor hoe om julle karakter op te bou, indien julle enigsins een het, en dan gaan ons bietjie met mekaar gesels, en vir die ander wat in die klas is, meer van jouself vertel, en hoe jy oor die lewe voel, as jy ooit weet wat die lewe is.
Goed, laat ons begin. Ek sal nie te lank neem nie, vir die wie nog wel ʼn lewe het buite dié klasse. Eerstens moet jy probeer om jou karakter te identifiseer. Hoe ons dit gaan doen, wel baie, baie diep grawe. In die eerste plek, moet jy probeer dink aan die persoon soos wie jy graag wil wees. Aangesien jy nie jou eie persoon kan wees nie. Jy gaan dan daardie persoon moet bestudeer sodat jy hulle karakter kan aanneem. Daar’s hy, dan kan jy ook mos iemand wees. Gepraat van identiteitlose kreature.
Nou goed. Tweedens sal ons kyk na daardie persoon se identiteit, vir die van julle met ‘n identiteitskrisis. Klink vir my meer na ‘n groendakkie-krisis, maar goed ons sal nou nie in diepte daarin gaan nie. Julle moet dan almal vir my volgende week asseblief ‘n volledige karakteranalise van daardie persoon, wie jy dink jy wil wees, saambring. Of nee, wag, mmm, ek moet nou eers dink waar ek dit gesit het, ha, hier. Ek gaan sommer vir julle elkeen ‘n karakter gee om te wees, aangesien julle dit so moeilik vind om te weet wie jy is. (maak asof hy met iemand in hulle gesig praat)
Goed, nou gaan ons bietjie gesels oor hoe julle voel oor die lewe. Ons begin sommer met jou.
(Beweeg terug na sy stoel toe)
Meneer Kemp. Ugh, meer soos meneer Kramp.
(Net nadat hy die woorde sê gryp hy na die agter kant van sy bo been en maak asof hy ‘n kramp kry.)
Nee, niks nie, ek het gesê ek het ‘n kramp. Maar hy’s, hy is, nou weg.
(Hy sê die woorde half in ‘n hakkelende manier en dus die dubbele “hy is”.)
Nee, meneer Kramp, ek bedoel Kemp. Daar is nie verbetering as jy dink die blommetjies is mooi en die bome is so groen en mense is so wonderlik nie. Daar is nie so iets nie iets. Dit is die realiteite van die lewe. Fokus op die realiteite. Dan sal jy beter raak. Dis die geweld wat saak maak. Dink daaraan. Dit is wat jou beter gaan laat voel. Laat ek sien. Wie is die karakter wat jy gekry het? Ja, Osama bin Laden, juis. Fokus op die geweld.
(Raadt vou sy hande saam en glimlag wanneer hy die eerste twee sinne sê, maar die volgende ses sinne sê hy met ‘n kwaaierige ongeduldige stem en dan van “laat ek sien” verskyn Raadt se vriendelike gesig weer en moedig meneer Kemp aan.)
Mevrou Mynhardt. Gee my ‘n pyn in my g…
Ag, mevrou, ek sê sommer ek kry ‘n pyn in my hart as ek aan mevrou se storie dink. Dit is mos nou al twintig jaar dat mevrou se man oorlede is. En dis steeds vir my ‘n verskriklike gebeurtenis. Verskriklik dat sy nog hier is, ja. Ek is seker mevrou is amper daar. Jy het nou al mooi vordering getoon in die afgelope paar maande wat die klasse aan die gang is. Elke lessie hier.
(Soos wat Raadt sy sarkastiese meegevoel teenoor mevrou Mynhardt vou hy albei hande oor sy bors, en met die laaste sin vou hy weer sy hande saam.)
Mejuffrou Skeeter. Skiet my.
(Net nadat Raadt hierdie woorde gespreek het, beweeg hy in ‘n posisie in asof hy sou keer vir die skoot wat mejuffrou Skeeter op hom wil vuur.)
Wag, wag, wag nou juffrou, sit weg daai pistool.
(Raadt probeer met ‘n verskrikte glimlag op sy gesig mejuffrou Skeeter oortuig met dié woorde en maak asof hy stadig beweeg na haar toe.)
Ek is jammer as jy dink die klasse neuk jou net nog verder op. Dit is glad nie die bedoeling nie. As jy die stappe volg wat ek aan jou gee, sal jy beter word. Sit nou net weg daardie geweer. Alles gaan ‘okay’ wees. Dink aan die res van die mense in die vertrek. Hulle het reeds nie ‘n lewe nie, dink net hoe dit gaan wees as jy hulle nou nog verder moet traumatiseer.
Nee, juffrou, nee!
(Raadt druk sy oë toe en dan gaan daar ‘n skoot af wat duidelik gehoor kan word deur die gehoor en met die slag, val Raadt agteroor met beskermende hande voor sy gesig. Na ‘n kort rukkie van stilte staan Raadt op en voel-voel aan homself om te voel of hy nie die een is wat geskiet is nie.)
Hah, ek is nog ‘okay’, maar wie het die skoot dan getref?
(Raadt kyk rond nadat hy aan homself gevoel het en dan kyk hy af en sien dat mejuffrou Skeeter haarself geskiet het. Hy plaas sy hande dramaties voor sy gesig en uiter die volgende woorde:)
Ag nee, net nie selfmoord nie, dis wat ons ten alle tye probeer verhoed met hierdie klasse. Ag, sy is seker nou op ‘n beter plek.
(Die laaste sin praat hy weer in sy normale stemtoon asof niks gebeur het nie.)
Goed julle, ek dink die klasse is verby vir vandag. Toe, toe, toe. Moenie net daar sit en staar nie. Kom julle beweeg maar uit. Ek sal die polisie laat weet en so aan. Ek sien ons het ʼn paar ‘tawwe’ lessies wat voorlê. Onthou asseblief julle betaling vir die volgende wanneer ek julle weer sien. Baie dankie dat julle gekom het.
Totsiens.