Nag, Lucy!

Monoloog – Volwassene
Jac J. Brits
'n Man skryf 'n brief aan sy meisie Lucy.
Ouderdomsgroep: Volwassenes

Nag, Lucy!

Liewe Lucy…ek sit gisteraand saam met Willie op sy patio en dop maak en hy sê, mag ons altwee se toekoms blink wees, en ek weet hy dink net aan ryk word, maar ek sê, cheers en hy sê tjorts; vee daai dêm frons van jou gevreet af, man; jy lyk soos ‘n kat wat vrot melk gesuip het; is jy nie bang jou gesig bly staan so nie? Toe maak hy ons glase weer vol. Jy weet mos hoelank vat party ouens om ‘n dop te skink – so of hulle nie rêrig wil nie.

Maar ek kan eerlik sê Willie wil; hy’s nie suinig nie, wat ook al sy anner foute is.

Maar te veel is te veel, daaraan glo ek. Ek hou my hand op en ek sê hard, sodat hy kan sien hoe ernstig ek is, ek sê, “Sorry, Willie ou pêl, een is klaar te veel in die omstandighede. Hy vra ‘watter omstandighede?’ en ek sê, ek het vanaand uitgesit om te dink oor die lewe. MY lewe, oukei? Willie sê nog, jy weet mos ek sal jou huis toe vat, maar toe’s ek reeds by die deur uit, sonder om te groet. Dis nie soos ek is nie, ek bedoel, om te loop sonder om tot siens te sê, maar ek wou hê hy moet sien ek bedoel elke woord…

Dit het gisteraand gereën, Lucy. Jy ken mos die ou Karoo. As hy die dag op sy stukke is na ‘n lang droogte. Niks keer hom nie. Jy kan behoorlik sien hoe die karoobossies wakker word en water suip; jy sal sweer dis ‘n dier. 

Dit het my aan die dink gesit, Girlie. Weet jy waaraan? Aan laas somer toe jy hier was. Toe was dit of die aarde wou versuip; daar was nêrens ‘n droë kol nie. Nie eers in jou eie kamer nie. 

Dis seker hoekom ek gisteraand so eensaam gevoel het.

Ek weet nie hoelank ek so kop onderstebo gesit het nie. Ek het later nie eers meer geweet dit reën nie. My kop was vol gedagtes oor jou. Maar ek wou nie dink nie, Lucy. Nie oor die verlede nie en ook nie oor die toekoms nie.

Ek het jou brief gekry, Girlie. Laas week al. Ek weet nie hoekom jy my nie meer wil hê nie. Ek dink my kop moeg, maar ek kan nie onthou wat ek verkeerd gedoen het nie. Wat het ek gedoen, Girlie? Daar is mos niks wat nie vergewe kan word nie.

Ek is jammer ek hou so aan, Lucy, maar my kop wil niks anders dink nie. Dat jy my wil drop. Jy moenie dit aan my doen nie, Girlie. Ek het al so baie in die lewe gevat. Ek is al skoon vuisvoos van al die houe, ek kan nie meer vat nie.

******

Toe ek gisteraand by Willie weg is, kon ek nie rus kry nie. Toe gaan ek maar na oom Archie toe. Hy bly nog alyd in die huis langs die rivier. Die een met die platdak en die groentetuin. Daar was eers ‘n blomtuin ook, maar oom Archie sê, blomme hoort nie meer daar nie. Ek kan verstaan hoekom hy so sê. Hy’t verander vandat sy vrou hom gelos het. Hy’s nie meer dieselfde mens nie.

Ek verstaan dit, Lucy. Ek weet hoe voel dit as die lewe jou behandel of jy niks is nie. Jy weet nie hoekom nie en dit maak seer. Dis of iets gebreek het in jou en jy kan dit nie heelmaak nie. Oom Archie sê jy dink jy ken mense, maar as jy diep daaraan dink, ken jy niemand nie. Jy ken nie eers jouself nie. Die ergste is, jy ken nie eers die mense wat jy liefhet nie. Ek dink dis hoekom ek so eensaam voel: omdat ek JOU nie ken nie. Nie rêrig nie.

En omdat jy dink jy ken my, maar jy ken my ook nie. Nie rêrig nie.

Party mense sê die lewe is nie regverdig nie. Hy staan partykeer met sy gatkant na jou toe en jy kan daar niks aan doen nie. Maar Pa het altyd gesê, jy kry wat jy verdien. Ek weet nie wat die waarheid is nie, Lucy. En dit maak my bang. As die lewe NIE regverdig is nie, sal dit mos nie help jy baklei nie. Ek bedoel, as jy net kry wat jy verdien…dan is EK mos verlore, Girlie. Want ek VERDIEN jou mos nie…

Ek is lonely, Lucy. Weet jy hoe dit voel om lonely te wees?

*****

Ek was netnou weer by oom Archie. Hy’t nie oopgemaak toe ek aan die voordeur klop nie, toe loop ek maar agterdeur toe. Hy’t by die tafel gesit met ‘n boks vol foto’s voor hom. Hy was so ingedagte, hy’t my nie eers raakgesien nie. Ek dog toe hy gaan die foto’s vir my wys, maar toe sit hy als terug in die boks en bêre dit bo-in die koskas. Toe eers kyk hy na my, maar dit was of hy my nie sien nie. Miskien was sy gedagtes vêr. By sy vrou. Wat weggeloop het saam met ‘n traveller Durban toe. Die dag voor Kersfees. Dit kon nie lekker gewees het nie…

“Haait, oom Archie!” groet ek opgeruimd, om hom op te beur. “Hoe’s die lewe hierlangs?” 

Maar hy antwoord nie, en ek dink, daar is seker niks om te sê nie. Woorde sê nooit rêrig wat jy wil sê nie, so dis beter om stil te bly.

Ek staan nog so en wonder, toe gryp hy my aan die arm en sleep my die straat in. Ek weet eers nie nie wa’entoe hy op pad is nie, maar toe ek sien, is ons voor Willie se huis, en ons staan en kyk hoe hy sy seun, Sampie help om op die motorfiets te kom. Die outjie is nog nie veertien nie en die ding is sweerlik ‘n size of drie te groot vir hom, maar hy’s nie geworry daaroor nie; jy sal sê die mannetjie ry al motor bike van sy doekdae af, so windmaker sit hy in die saal.

Jy’t nog nie soiets gesien nie, Girlie. Ek bedoel, met Sampie wat probeer om ons te impress en Billy, sy maat, wat lyk of hy vasgelym is op die passenger seat en vir lewe en dood vasklou aan Sampie se lyf. Ek hoor oom Archie hyg soos hy lag vir die spektakel en ek dink, dis hoekom hy vir Willie kom kuier het. Om te lag. Sodat sy gedagtes kan weggaan.

Ram-tatta, sê die stuk lawaai. Sampie gooi ‘n lekker es en die agterwiel skop styf. Ram-tatta, ram-tatta…ugh!. Billy gryp na Sampie se skouers. Sy oë is soos pierings.

“Hou vas!” skree Sampie. “Wil jy jou vrek val?”

Jy moes Billy gesien het. Hy sluk of daar ‘n heel turksvy met dorings en al in sy keelgat vassit.

“Ry jy maar,” skree hy soos ‘n maer vark. “Jy kan mos sien ek voel nie lekker nie.”

Toe neuk hy af, gat oor kop.

Die enjin sluk ‘n paar keer en kug en proes dat jy hom tot by die poelieskantoor kan hoor. Toe spring die demmitse ding vorentoe. Hy ruk Sampie se kop amper van sy lyf af.

“Bliksem!” skree Billy. toe die bike oor die grasperk skuur.

Oom Archie lag sonder ophou en Willie trek ons by die agterdeur in. Hy skink vir ons elkeen ‘n double brandy en coke en oom Archie sê hy soek ‘n ysblokke, jy kan nie brandewyn drink sonder ‘n ysblokkie nie. Sy gesig is nog rooi van die lag, maar ek sien daar’s trane in sy oë, dis hoekom hy ander pad kyk.

“Tjorts!” sê Willie.

“Cheers!” sê oom Archie, maar hy kyk nie na ons nie.

Willie sal moet ophou skink, dit sien ek gou. Netnou moet hy my huis toe vat omdat ek nie weet wat my adres is nie. Jy weet mos ek kan nie meer as één dop vat nie, Lucy, dan’s ek pêreletiek… Luister, Willie, ek drink nie meer nie…los dit vir volgende keer, oukei? ‘n Man kan net soveel vat, dan moet hy briek aandraai.

“Op Anna,” sê Willie ernstig.

Ek en oom Archie lig ook ons glase, maar dis nie eintlik iets om te celebrate nie. Ons weet Anna het Willie gelos, want hy’t altyd rondgeneuk met ander vroumense. So daar’s niks om te celebrate nie. Maar miskien dink hy ek en oom Archie het ook maar niks om oor te brêg nie. As EK ‘n ander man was wat IETS is, met geld en ‘n hoë job en pensioen en ‘n medical aid en als, dan sou jy weer gedink het het oor my, sou jy, Girlie? Ek bedoel, ‘n ou wat IETS is, IS iets. Vroumense los nie sommer ‘n ou wat IETS is nie!

Luister, Willie, ou pêl, jy moet nou ophou skink, man! Jy weet mos ek kan nie meer as één dop vat nie, dan’s ek pêreletiek, oukei?…Oukei, nog net énetjie, dan moet ek waai. Ek moet gaan dink. Oor MY lewe!

Toe begin Willie skielik praat en ek en oom Archie luister sonder om ‘n woord te sê. En hoe meer ek luister, hoe meer besef ek ons stories, myne en oom Archie en Willie s’n…dis almal dieselfde: Jy dink nog jy sit, dan val jy af en jy weet nie eers hoekom nie. Dis seker maar soos die lewe is.

“Het ek julle vertel hoe’t ek my nuwe girl ontmoet?” vra Willie, en ons sê nee, wat’s haar naam?

“Lizzie,” sê Willie. “Sy bly in George. By haar pa en ma. Maar die storie gaan nie oor hulle nie. Dit gaan oor my broer. Watter broer?” vra oom Archie en Willie sê, “Die een wat begin het om vir predikant te leer. Hy nooi my een keer elke jaar vir ‘n ‘party’ by sy huis. Altyd op ou-krismis. Dan vertel hy vir die mense ek is sy broer wat deur Europa getoer het, ek gaan een van die dae weer. Al sulke kak met strepe. Hy dink seker hy doen my ‘n favour. Nog ‘n dop, oom Archie? Ek vra jou nie weer nie, Jamie, jy kan dit nie vat nie; ek weet nie wat van jou gaan word nie…

Willie skink vir hom en oom Archie.

“Het ek gesê hy gee my altyd ‘n spiv suit?” vra Willie vir ons. Ons sê nee, ons kan nie onthou van soiets nie. Toe vertel Willie, “Boet wil nie hê ek moet uit voel nie, dis hoekom hy my elke jaar ‘n suit present gee vir Krismis. Hoe sal ek lyk, hu, met my jeans? Boet se high-en-mighty vrou, Annelize, sal sê, “Sies, man, was jy dan nooit jou klere nie?” Julle weet hoe party mense is: praat eers en dink agterna…

“Nie almal het so ‘n broer nie,” sug oom Archie.

Willie skink weer en vra of ons weet sy broer nooi hom net om ‘n preek af te steek omdat hy – dis nou Willie – drink True as Bob. Dis sy manier om homself te vergewe, sê Willie. Hy voel skuldig omdat hy nie klaargemaak het vir predikant nie. Maar wat is ‘n groter sonde:: om te drink, of op ander mense neer te sien, soos Annelize of te lieg, soos hy? Ek vra julle. 

Ek en oom Archie sê altwee neersien en lieg is die grootste sondes en Willie sê dit wys ons twee is sy grootste pelle, weet ons hoekom hy uitsien na die toekoms?

Oom Archie sit in sy glas en kyk en ek sê nee, hoe sal ons weet? En toe vertel hy ons.

“Dis oor my nuwe girl,” sê Willie. “Wat ek op Boet se ‘party’ ontmoet het. Laas Krismis.”

Dit lyk my ons mans ontmoet almal vroumense. Nie omdat jy daarna soek nie. Dit gebeur net, Lucy. Agterna wonder jy hoekom dinge so uitgedraai het, maar jy weet nie. Net oor jou het ek nooit gewonder nie, Lucy…ek wil hê jy moet dit weet…nooit! Ek het jou van die eerste dag af liefgekry.

“Sy’s nie meer jonk nie,” vertel Willie en kyk in sy leë glas. “Amper so oud soos ek. Ses-en-dertig. Maar sy is gaaf en haar pa het ‘n restaurant op George en sy is die enigste kind en sy gaan alles erf. En toe begin my kop werk en ek maar sommetjies en ek sê, ek is ook alleen, hoekom trou ons nie en sy sê ja; dit was vir haar love at first sight, was dit ook so met my? Wat sê ‘n man, oom Archie? Nou’s haar mense haastig. Ons moet trou, want die oubaas is oud en soek ‘n man wat na sy dogter kan kyk en vir haar kinders kan gee. Wat sê ‘n man in so ‘n situasie, oom Archie?”

Maar oom Archie se mond en oë is bot toe.

“Nog ‘n dop, oom Archie? Jamie, wat van jou? Jy lyk vrekdors, man. Vat nog een op my troue.”

Willie sal moet ophou skink! Netnou moet hy my huis toe vat. Hy weet mos ek kan net een vat, dan’s ek pêreletiek. Nou neuk hy om aanmekaar te vra; het hy dan nie bleddie ore nie? Dankie, Willie, tenks, man!.

Dis hoekom ek nooit meer as een dop vat nie, Lucy. Van die tweede een af kan jy my met ‘n veertjie omtik. Maar dit sal nooit gebeur as JY by my is nie. Dis ‘n promise! Jy weet mos, net één kyk van jou en ek weet ek neuk verkeerd. So jy hoef nie bang te wees nie; ek sal jou nie in die skande steek nie. Dis ‘n promise, oukei?

Dis net…vanaand vier ons Willie se geluk. Hoe sal dit lyk as ek my eenkant hou? Dit sal lyk of ek nie omgee vir my pelle nie, en ek GEE OM!

******

Oom Archie het my na sy huis toe gevat. Sodat ek kan rus na die drinkery. En kan DINK. Dis soos oom Archie is, HY GEE OM. En dit sê iets van ‘n man se karakter. Het ek jou al gesê, hy’s soos ‘n Pa vir my? 

As jy vir my kom kuier, kan ons by hom gaan inloer. Mens kan sien daar is nie ‘n vrou nie. As dit nie vir die potplante was nie, sou die plekkie ook maar dêm sêd gelyk het. Maar ek dink hy’s gelukkig daar. Met die plante wat die hele huis vol staatn. Dis hoekom ek gevra het, waar kry jy al die plante, oom Archie? Ek het nog nie soveel soorte bymekaar gesien nie. Ek dag toe ek kan vir jou ook ‘n paar koop, sien; jy’s mos so lief daarvoor. Toe sê hy die meisie wat hy gehad het nadat ant Lilly weg is…sy het dit vir hom gegee.

Oom Archie het nooit oor haar gepraat nie, maar almal in die dorp weet sy en oom Archie was nie lank bymekaar nie, toe loop werk sy in die stad. Ek glo nie hy het weer van haar gehoor nie. Nou’s dit net die potplante wat hy oorgehou het.

******

Ek verlang na jou, Lucy. Skemer saans, as die voëls mekaar nag sê in die bome voor my kamervenster, dan…ek weet nie hoe om dit te sê nie, Girley. Dis…dis of hulle net vir my sing. Of JY een van die tortelduiwe is, en jy koer-koer, en jy sê dinge wat ek nog nooit gehoor het nie. Dinge wat ek vir JOU wil sê, maar ek kan nie, dis te diep weggebêre in my hart…

Weet jy hoe dit voel, Lucy? Jou kop sê vir jou jy het nie ‘n kat se kans nie. Maar jou hart WIL NIE DAARNA LUISTER NIE!.

Weet jy wat sal ek doen as jy terugvat? Ek sal ‘n ander mens word. Jy sal my nie herken nie. My gesig sal anders lyk. Jy sal wonder of jy gesigte sien.

******

Dis al die soveelste keer vanaand dat oom Archie vir my nag sê. Miskien dink hy aan ant Lilly en…miskien verlang hy soos ek.

Ek het na hom geroep, maar hy het my nie geantwoord nie. Toe klop ek aan sy kamerdeur en ek sê, “Oom Archie, ek het gedink, miskien moet ek vir my ‘n huis koop. Dit hoef nie groot te wees nie. Ek kry een van die dae ‘n verhoging by die werk, dan sal ek ‘n lening kan kry. Dink Oom ek moet? Ek reken so, as ek my eie blyplek het…ek bedoel, dis miskien hoekom Lucy my gelos het. Omdat sy nie seker is van my toekoms nie. As ek nou my eie plekkie aanskaf sal sy mos sien ek is ernstig oor haar. Hoor jy wat ek sê, oom Archie? (POUSE) Oom Archie het nie geantwoord nie. Miskien het hy geslaap. Of miskien…miskien wou hy net nie praat oor ‘n toekoms sonder ‘ant Lilly nie. Ek wil ook nie praat oor die toekoms nie, Lucy. Nie as jy my los nie…Ek sal nie kan praat nie.

(POUSE) Nag, Lucy…

Jac J. Brits
Die teks is geskryf deur Jac J Brits, ‘n bekroonde skrywer wat veral bekend is vir sy radiodramas.
2006-01
Kopiereg Jac J. Brits

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

0
Would love your thoughts, please comment.x