Oupa noem my Toffie

Monoloog – Laerskool
Franci Greyling
12-jarige meisie. Sy vind onverwags uit dat sy leukemia het.
Ouderdomsgroep: Graad 5-7
Karakter: 12-jarige meisie. Vleg hare in honderde klein vlegseltjies en maak allerhande dinge daarin vas, bv. strikkies en skoenlappertjies en blinkertjies en kersfeesversierings. Bind die vlegseltjies eers in ‘n ponie saam sodat dit nie te woes lyk nie.
Stel: Toneel speel af in ‘n dokter se wagkamer.

Oupa noem my Toffie

(MEISIE SIT OP ‘N STOEL IN DIE WAGKAMER VAN ‘N DOKTER.)

‘n Dokter se wagkamer is ‘n simpel plek. (KYK ROND OF STAP VAN EEN PLAKKAAT NA DIE VOLGENDE) Al wat hier is is vaal skilderye, en plakkate oor siektes en medisynes, (MAAK OF JY ‘N TYDSKRIF OPTEL EN DAARIN BLAAI.) en vervelige tydskrifte. Oú vervelige tydskrifte.

(SKUD KOP MOEDELOOS.) Gewoonlik is hier darem mense ook. Mense wat wag en vervelige tydskrifte lees. Siek mense – maar darem mense. Gewoonlik is die suster ook hier, maar sy’s al nétnou weg. Ma is al só lank by die dokter. Dis eintlik vir my wat hy moet sien, maar nou is Ma daar in! (WYS NA ‘N DEUR EENKANT.) Dis oor die toetse se uitslae, dis daarom dat ons dié tyd van die dag moes inkom as almal al huis toe is.

Jaaaa, (SUG MOEDELOOS) ek sal maar my kaartjies lees. (HAAL KAARTJIES UIT SAK EN BLAAI DAARDEUR.)

“Word gou beter. Ons mis jou. … 0/12 Netbalspan.”

“Liefkind, een van die dae is jy heeltemal gesond. Pappa.”

“Ons is lief vir jou Toffie – van Oupa en Ouma.” (GLIMLAG EN DRAAI NA DIE GEHOOR OM MET HULLE TE GESELS.)

My oupa noem my Toffie.

Nee, dis nou nie daai taai toffies wat mens by die snoepwinkel koop nie.

Toffie kom van op-tof. Dis ook net Oupa’s wat so ‘n woord ken. Oupa sê ek tof my altyd op.

Ek dink nie hy is reg nie (SKUD KOP).

Ek dra mos nie grimering nie, en ek het nie lang naels nie (GRIL). Juffrou (voeg naam in) sal in alle geval raas, en wie wil nou by háár raas kry?

Dalk is dit wat ek aantrek? (TREK AAN KLERE, DRAAI IN DIE RONDTE) Maar dis tog nie optof nie? (TREK SKOUERS OP) Ek trek maar net aan wat in my kas is. En wat kan ek nou maak as ek ‘n niggie het wat gou met haar klere verveeld raak, en ‘n ouer sussie wat uit haar klere uitREK (WYS HOE IEMAND LANGER WORD). Wat kan ek help as ek nie eintlik groei nie? (HARTSEERDERIG)

(MAAK PONIESTERT ONGEMERK LOS.)

Ek dink nie ek tof op nie! (SKUD HARE SODAT PONIESTERT LOSGAAN EN VLEGSELTJIES RONDOM KOP SWAAI.)

Ouma sê dis oor my háre wat Oupa sê ek tof op.

Ek hou van my hare! (LAAT VINGERS DEUR VLEGSELS GLY) Ek hou van hare opmaak.

(GESELS MET DIE GEHOOR) Ek dink ek was so twee jaar oud toe ek en ‘n maatjie ‘n skêr in die hande gekry en mekaar se hare geknip het! Sulke happe in. (WYS) Gelukkig het ons nie mekaar se oë uitgesteek nie! My ma het toe my hare kort gesny om al die snaakse happe weg te steek.

Maar kan jy glo, die hare het skaars uitgegroei toe het ek weer die skêr beetgekry! (VIR GEHOOR.) Dink julle nie grootmense moet skêre beter wegsteek nie?

Hóékom ek my hare gesny het, weet ek nie. Kort hare is tog vir my ááklig!

Maar ek dink dis daar waar my ding met hare begin het. Ek het al allerhande dinge met my hare gedoen. Ek hou van knippies en strikkies en snaakse bobbeltjies en haarbande en…

(OPGEWONDE) Ek hou van vlegsels en poniesterte en bollas.

Ek hou van honderde klein vlegseltjies wat as mens dit uitkam, so krrrittss (WYS) langs my kop staan. Mens vleg URE aan sulke vlegseltjies. (INGEDAGTE) Eers was dit maklik, maar nou word my arms lam daarvan… (GAAN EFFENS UITASEM EN MOEG OP STOEL)

(TREK SKOUERS REGOP ASOF SY NUWE MOED SKEP EN STAAN WEER OP.)

Maar moenie dink dat ek net van gewone vlegsels en poniesterte hou nie. O nee, ek is ‘n meisie vir kombinasies (SPREEK MET KLEM UIT: KOM-BI-NA-SIES). Partykeer maak ek ‘n poniestert aan die een kant, en ‘n vlegsel aan die ander kant… My nuutste is om my hare in klein vlegseltjies te vleg, ‘n bolla te draai, én allerhande interessante dinge in die bolla te steek. (DEMONSTREER).

(REAGEER AS DIE MA UIT DIE DOKTER SE SPREEKKAMER KOM. HULLE KRY HAAR BESIG OM HAAR HARE IN ‘N BOLLA TE DRAAI.)

Ma? Ma was lank … Hoekom huil Ma?

Kom Ma, sit nou eers. (MAAK OF SY IEMAND OP DIE STOEL LAAT SIT.)

(PRAAT MET DIE DOKTER) Hoekom huil my ma, dokter? (BEKOMMERD)

(SY LUISTER AS DOKTER PRAAT.)

(PRAAT MET HOM.) Leu… Leukemia? Wat beteken dit, dokter?

(LUISTER)

Ek kan gesond word, dokter, nê. En dan sal ek groei en groot word en weer netbal kan speel en…

(LUISTER)

As ek die behandeling kry? Ek drink mos dan al pille?

(LUISTER)

Ander behandeling? Bestraling en che-mo-tera-pie. Is dit erg?

(LUISTER)

Behandeling wat my eers sieker gaan maak voordat ek gesond word. (LUISTER). En wat? (LUISTER EN GRYP NA KOP) Gaan my hare uitval, dokter? Gaan ek… gaan ek… heeltemal kaalkop word?

(LUISTER)

(SPEEL MET HAAR HARE.) Eers kort sny… en later dalk heeltemal niks hare nie… Vir ‘n ruk, vir ‘n paar maande… Maar ek sal gesond word, nê dokter?

(LUISTER EN KNIK HAAR KOP. DRAAI DAN NA HAAR MA.)

Kom Mamma, kom ons gaan huis toe.

(WANNEER HULLE AMPER VAN DIE VERHOOG AF IS, KOM SY TERUG EN PRAAT MET DIE GEHOOR.)

(LIG KOP EN SKOUERS – KYK NA GEHOOR MET NUWE MOED.) Ek is Toffie. Ek tof nie net op nie… ek is ook so taai soos ‘n toffie.

Ek sál gesond word!

Franci Greyling
2004-08-01
Kopiereg Franci Greyling

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

0
Would love your thoughts, please comment.x