Sosiaal

Monoloog – Hoërskool
Deolinda de Bruin
Graad 12-meisie. 'n Jong meisie wat leef vir die internet.
Ouderdomsgroep: 15+
Karakter: Graad 12-meisie. Sy dra skoolklere, haar hare is in slierte voor haar oë, en sy dra ‘n bril.
Stel: Slaapkamer. Daar is ‘n lessenaar met ‘n skootrekenaar, en ‘n stoel voor die lessenaar. Op die lessenaar is ‘n boek en ‘n stel potlode.

Sosiaal

(Kom in, sit op die stoel, haal ‘n selfoon uit en sit dit op die lessenaar. Sit die rekenaar aan.)

Nog ‘n dag van skool, saam met daai idiote wat dink hulle is so goed. Ag, asseblief. Hulle het nie ‘n cooking clue wat in die wêreld aangaan nie. Hulle is meer gepla oor wie vry vir wie.

(Kyk na die foon, tik iets.)

O, Taylor Swift het ‘n nuwe ou. Kom ons kyk watter liedjie kom hieruit. Hashtag, ‘Good for you, Tay.’ Tweet. As hulle maar net geweet het dat ek praat met ‘n klomp celebs op twitter. Taylor Swift, Beyonce, Britney Spears… Maar hulle is meer gepla oor Donna Theron wat haar hare alwéér gekleur het. Hoor hier, sy het regtig blonde hare.

(Kyk weer na foon.)

Dawie het vir my gevra of ek hom kan help met sy huiswerk. Hy vra my gereeld, al het hy nie hulp nodig nie. Ek dink hy wil net ‘n verskoning hê om met my te praat. Hy’s seker die enigste ander persoon in daai hele skool met ‘n klein bietjie intelligensie. Natuurlik sal ek met hom wil uitgaan. Ek dink hy wag om vir my te vra vir die Matriekafskeid. Dit sal die perfekte eerste date wees. En ek wéét hy gaan my vra.

(Maak die boek oop, vat ‘n potlood en teken.)

Ek is amper klaar met hierdie Naruto fanart. Ek dink nie eers hulle weet wat Naruto is nie. Hulle weet nie eers die verskil tussen anime en cartoons nie. Hello! Anime is Japanees, en is nie net vir klein kindertjies nie. Maar hulle is te onnosel om dit voor te verduidelik.

(Vat die rekenaar se muis, kliek ‘n paar keer.)

Kom ons gaan op 9gag, Qoutev, Deviantart en Facebook. Aha!

(Klap hande een keer.)

Die prent wat ek gister opgesit het is op die hot page! Sien, mense op die internet vang ten minste my skerp gedagtes. Hulle weet darem waarvan ek praat. Nie soos hierdie klomp idiote nie.

(Kliek weer met die muis.)

En die mense hou van die storie wat ek op die website gesit het. As my onderwysers maar net ook daarvan gehou het. ‘Verhalende opstel’ met ‘n onderwerp, dan kry ek vyftig persent daarvoor! Regtig? Wel, ten minste die res van die wêreld hou daarvan.

(Kliek weer.)

En die laaste ding wat ek geteken het is ook gewild. Maar natuurlik. En dan het my Kunsjuffrou gesê ek moet eerder nie teken nie. Wat weet sy tog?

(Kliek weer. Kyk na die skerm vir ‘n ruk.)

As hulle maar net geweet het dat ek ses honderd vriende op Facebook het. Ek dink nie húlle het soveel vriende nie. Hulle weet mos nie hoe om ‘n rekenaar te gebruik nie. Ek wonder of ek moet League of Legends speel? Sodra die ander spelers uitvind ek’s ‘n meisie, dan swerm hulle om my. Hulle vra gereeld my e-posadres, en wil graag ‘n foto sien. Chantelle Botha dink sý kan die seuns om háár pinkie draai, maar wag totdat sy sien hoeveel hou van mý. Maar ek wag vir…

(Kyk na die skerm, mond hang oop. Raak vies.)

Wat! Dawie is in ‘n verhouding met daai poppie Tina Terreblanche! Ek dog hy is slim!

(Raak hartseer.)

Ek dog hy hou van mý. Ek meen, hy vra my gereeld om hom te help, en dan gesels ons lekker. Die websites sê om dit nie duidelik te maak jy hou van hom nie. Wie soek nou iemand wat desperaat is? Maar Tína! Sy is ‘n klein tert wat soos ‘n verlore hondjie lyk as sy nie ‘n ou het nie!

(Ligte flikker.)

Wat? Die krag is af! Gelukkig is my laptop se battery nog veilig, maar… Die wi-fi! Ek het nie wi-fi sonder krag nie! Wat kan ek doen sonder die internet?

(Kyk na foon.)

Jy grap. Hoe kan die battery dood wees?! Natuurlik, laat jou in die steek wanneer dit die nodigste is! Wat kan ek doen? Ek het die internet nodig. Ek het die ménse op die internet nodig! Hulle’s al wat ek het.

Deolinda de Bruin
Die monoloog is geskryf deur Deolinda de Bruin. Deolinda is ‘n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2014.
2014-07-12
Kopiereg Deolinda de Bruin

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.

0
Would love your thoughts, please comment.x