- Skryf sintuiglik: jou leser moet ruik, hoor, sien en voel deur jou woorde.
- Skryf elke dag. NULLE DIES SINE LINEA: Laat daar nie ‘n dag sonder ‘n geskrewe woord wees nie! Dis belangrik om gedurig met skryf besig te wees. Skool jouself daartoe om elke dag ten minste een reël te skryf. So ontwikkel jy jou eie styl.
- Moenie te veel op ander se opinies staatmaak nie. Vertrou jou eie oordeel en wees streng met jouself. Slyp jou eie oordeel deur baie te lees en baie krities na jou eie werk te kyk. Klop jouself soms op die skouer as jy dink jy verdien dit!
- As jy iets begin skryf het, of dit nou ‘n kortverhaal of ‘n roman is, maak dit KLAAR. Voltooi wat jy begin het anders kan ‘n mens kwalik ‘n oordeel daaroor vel.
- Onthou: die skryfproses is nie magies nie. Dis gewone harde werk. Dit verg ure, dae en maande se kreatiewe arbeid om iets te skryf wat publiseerbaar is.
- Word ‘n fyn waarnemer. Sien raak wat om jou gebeur. Kyk dieper as veldiep na mense, probeer verstaan waarom hulle doen wat hulle doen en sê wat hulle sê. Skryf dit dan neer. Eendag gebruik jy dit dalk in ‘n storie.