Jan Vermeulen is op 31 Julie 1960 op Bethaniën, Namibië, gebore as die jongste van nege kinders. Hy het sy skoolloopbaan begin aan die Laerskool Bethaniën. Na sy pa se dood is hy na ‘n laerskool in Windhoek, waar hy ook sy hoërskoolloopbaan voltooi het. Daarna het twee jaar diensplig aan die Infanterieskool op Oudtshoorn gevolg, waarvan veertien maande Grensdiens was as lid van 202 Bataljon.
In 1983 het hy die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 ‘n BTh en Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch, met ‘n skripsie oor “Die afwesige vader”.
Hy is ‘n predikant in die Nederduits-Gereformeerde Kerk, en was van 1988 tot 1991 leraar van die Tuinedalgemeente op George. Sedert 1992 is hy leraar van die Dagbreekgemeente op Despatch. Hy is in 1984 getroud met Karin van Wyk van Port Elizabeth, en hulle het twee kinders, Karla en Joándri.
Oor sy skryfwerk sê hy: “Ek skryf al vir so lank as wat ek kan onthou. Is seker maar so gebore.” Sy eerste publikasie was ‘n kortverhaal, “Die Sneeuprins van Alaska”, wat hy as veertienjarige geskryf het en wat in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer is.
Hy het in 1998 ‘n kursus in kreatiewe skryf bygewoon wat deur die Universiteit van Port Elizabeth se Departement Afrikaans en Nederlands aangebied is, en het in dieselfde jaar as romanskrywer gedebuteer met Die laaste dans, ‘n inskrywing in De Kat en Queillerie se Groot Romanwedstryd. Hy skilder graag en het self die bandkunswerk van Die laaste dans gedoen.
Die Sanlamprys vir Jeuglektuur is in 2000 toegeken vir Geraamtes dra nie klere nie.
Publikasies
- 1998 – Die laaste dans (Queillerie Uitgewers)
- 2000 – Geraamtes dra nie klere nie (Tafelberg Uitgewers)