Marietjie van Rooyen

Marietjie van Rooyen

Marietjie van Rooyen is 'n woordmens by uitstek: joernalis, taalredigeerder, rubriekskrywer, redakteur, vertaler én jeugboekskrywer.

Marietjie van Rooyen het haar skoolloopbaan in 1962 op Petrusburg in die Vrystaat voltooi en in 1965 die graad BA aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat behaal.

Haar loopbaan as joernalis en taalredigeerder het begin in Port Elizabeth by Die Oosterlig, die destydse susterskoerant van Die Burger, en is voortgesit by die Vaderland in Johannesburg waar sy as rubriekskrywer begin spesialiseer het.

In 1970 sluit sy by die redaksie van Sarie aan ná die publikasie van haar eerste twee kortverhale. Benewens joernalistieke werk van wyd uiteenlopende aard, het sy altesaam agt jaar rubrieke vir Sarie geskryf – die sogenaamde agterbladrubrieke. Sy was ook vier jaar lank Pretoriase redakteur van Sarie.

In 1982 verskyn haar bundel essays, Riet Aleen, by Tafelberg Uitgewers. Sedertdien het sy sowat sestien kortverhale en essays gepubliseer wat in verskeie bundels opgeneem is, soos Kortgolf wat in sy vyfde drukoplaag is (uitgegee deur J.P. van der Walt en Seuns). Vrede op Aarde, Goue Fluit my Storie is Uit (almal by Tafelberg Uitgewers) en Goue Eeu Stories, Sarie se Mooiste Liefdesverhale en 50 Goue Agterblaaie (by Human & Rousseau). Sedert 1990 skryf sy heeltyds en doen vryskutvertaal- en redigeerwerk.

In 1994 verskyn haar eerste jeugroman, Die Vyfletterwoord, by Tafelberg Uitgewers wat nou in sy derde drukoplaag is, en ook voorgeskryf is vir leerders in graad 10 in Wes-Kaapland en in graad 12 in KwaZulu-Natal. In 1997 verskyn Drie Maande in Mei, ook by Tafelberg Uitgewers.

Sedert omstreeks 1980 het sy sowat vyftien boeke vertaal, onder meer, Kom ons Maak MusiekWaarom gebeur Slegte Dinge met Goeie Mense? en drie boeke uit die Goosebumps-reeks (oftewel Grillers) van R. Stine, almal by Tafelberg Uitgewers.

Publikasies:

  • 1992: Riet-alleen (Tafelberg)
  • 1994: Die Vyfletterwoord (Tafelberg)
  • 1997: Drie Maande in Mei (Tafelberg)
Inligting verskaf deur Marietjie van Rooyen, September 2000
Marietjie van Rooyen
2000-09
0
Would love your thoughts, please comment.x