Reeds op tienjarige leeftyd publiseer Mary-Ann van Rensburg ‘n verhaal in ‘n tydskrif vir dowes, Die stille boodskapper. Benewens orrelis en onderwyseres is sy veral sedert die sewentigerjare bekend as musiekresensent.
Haar eerste boek Sonder om te praat (1980) vertel van vier buurseuns wat elk ‘n ander moedertaal het. Tienie se geluk (1981) handel oor Tienie en sy blinde pa wat klaviere stem, maar veral oor Tienie se liefde vir musiek. In Die wit duif (1981) lewer die standerdvyfseun, Jopie, koerante af om geld te verdien sodat hy duiwe en materiaal vir ‘n hok kan koop.
Die geur van jasmyn (1983) is Van Rensburg se eerste volwaardige jeugboek. Die musikaal begaafde Magriet Hamman het in haar matriekjaar te kampe met groot aanpassings na die gesin se verhuising na Kaapstad. Dit loop uit op gesondheidsprobleme. Ontdekkings (1988) gaan in die eerste instansie oor die ontdekking van ‘n geheime grot vol argeologiese vondse deur die veertienjarige Lize, haar maats en haar hond. ‘n Reënboog oor Grootbaai (1995) vertel van Tom wat saam met sy ouers na Kaapstad moet verhuis en in die proses sy goeie maats, sy duiweboerdery en ‘n broer en suster moet agterlaat.
PUBLIKASIES SLUIT IN:
- Sonder om te praat (1980)
- Tienie se geluk (1981)
- Die wit duif (1981)
- Die geur van jasmyn (1983)
- Ontdekkings (1988)
- ‘n Reënboog oor Grootbaai (1995)