Emma en die middernagman

Emma en die middernagman (resensie)

Marianna Brandt
Human & Rousseau
Resensie deur Cari Cloete

Die derde boek in die reeks onthul nog ’n slang in die gras.

’n Swart kat op ’n boomtak binne die maag van ’n volmaan, ’n meisie in haar slaapklere wat vermoedelik van iets (of iemand) af weghardloop – inderdaad ’n treffende voorblad. Emma en die Middernagman is die eerste boek uit die Emma-reeks wat ek optel. Die voorblad vang onmiddellik my aandag. Selfs al sou daar nie klaarblyklik aangedui word dat dit ’n speurverhaal is nie, sou mens die spinnedrade vinnig genoeg raaksien onder die helder maanlig. “Middernagman” ontsluier ook iets van die betowerende krag wat die nag op die leser uitoefen. Middernag, die spookuur, is die tyd wanneer geraamtes uit hulle kaste klim en sluipmoordenaars hulle volgende slagoffer voorlê…

Emma is nie bang vir wat in die nag rondseil, -kruip of -hinkepink nie. Inteendeel, sy is ’n meisie wat nie daarvan hou om in die duister gehou te word nie. Wanneer sy ’n slang in die gras vermoed stel sy dadelik ondersoek in. Vir nagte sal sy rondrol en die drade aanmekaar probeer knoop. Darem het sy vir Zoltan, haar medespeurder en die ou op wie sy verlief is, waarop sy altyd kan staat maak.

Dinge is egter besig om te verander op Kosterkloof – die nuwe skoolhoof Juffrou Beaulah Bonthuys lyk gaaf en die swartkat met haar kleintjies is vir almal te oulik, maar wie is die vreemde figuur wat elke aand in die meisieskoshuis se tuin rondsluip? Wat dinge vererger, Zoltan en Hendrik (Emma se tweelingbroer) en die res van die Kosterkloofseuns is almal betower deur die twee nuwe meisies, Alana en Selena. Dit is moeilik om speurwerk te doen én seker te maak ’n ander meisie krap nie in jou slaai nie.

’n Goedgeronde speurder-protagonis met ’n nuuskierige geaardheid – Emma is nie bang om tussen die skedels en slange rond te krap vir die waarheid nie. Terselfdertyd is sy ook onseker en bang vir liefdesteleurstelling. Dit maak van haar ’n identifiseerbare karakter. Sommige volwasse karakters besit ook unieke persoonlikhede, meestal bly onderwysers net agtergrondfigure. Mevrou Swartgans, die nagmoeder, is ’n fortuinvertelster wat die toekoms kan sien. Hansie, die jongman wat aangestel is om Juffrou Bonthuys se katte elke aand te vang, beeld ’n onskuldige liefdevolle geaardheid uit en kan gesien word as ’n ouboetfiguur vir Emma.

Deur die verhaal bly die spanningslyn styfgetrek en word al die geheime en komplotte in die laaste hoofstuk aan die lig gebring. Een besonderse opmerking wat kritiek ontlok het is ’n feitestelling wat gemaak is oor die voedingroetine van slange op bladsy 121. Sover die kennis wat ek het oor slange wat as troeteldiere aangehou word, is daaglikse voeding te veel. Raadpleeg bronne oor om net seker te maak van feite.

Ek beveel hierdie boek aan vir jong lesers wat belangstel in donker gange, creepy komplotte en ril-lekker speurwerk wat allerhande geldgierige slange in die donker uitvang.

Hierdie boek is uitgegee deur Human & Rousseau-uitgewers.

Cari Cloete
Cari Cloete is ‘n honneursstudent in Afrikaanse Skryfkuns, NWU, 2019