Skadujagter

Skadujagter (resensie)

Dihanna Taute
Human & Rousseau
Resensie deur Colette Combrink

Die jeugroman, Skadujagter, geskryf deur Dihanna Taute en gepubliseer deur Human & Rousseau het in Augustus 2018 op winkels se rakke verskyn. Die boek word as ’n sielkundige riller beskryf, en dit beskryf ook die leeservaring – ’n riller. Ter beskrywing eers ’n klein sinopsis van die plot:

Die sewentienjarige Heilbrandt blyk homself te bevind in ’n rykmanskool, waar streng sekuriteit hom dophou maar waar hierdie “sekuriteit” ook aanhou om vir hom dwelms te gee (?). Dít nadat hy by sy arm ouma moes intrek omdat sy ma deur een van haar mishandelende kêrels vermoor is, sy pa was nooit werklik op die toneel nie. Hy slip gereeld uit die skool uit en gaan bly dan by sy ouma, waar ’n slanke motor hom heeltyd agtervolg en waar die hond heeldag slaap. Meeste van die tyd hallusineer Heilbrandt, en hierdie “trips” maak glad nie die idee van die plot enigsins duideliker vir die leser nie. Hy luister ook tussendeur alles na die band Skadu Jagter, wie se lirieke ten einde sinspeel op sy ma se begrafnis. In die epiloog kom die waarheid uit dat Heilbrandt in ’n psigiatriese instelling opgeneem is omdat hy ’n skisofreen is. Die sekuriteit/dwelmhandelaars is eintlik die mediese personeel. En die slanke motor wat hom agtervolg is sy welaf pa wat sy ouma bring om te kom kuier.

Hier is baie om uit te pak, alhoewel dit aan die einde van die leeservaring voel asof jy meer produktief kon wees en vloere was as wat jy 149 bladsye deursukkel. Daar is wel ’n paar positiewe eienskappe, soos die bekende toertjie om in die epiloog eintlik te onthul waaroor die storie as ‘t ware gaan. Dit is ’n vars asem en voel of jy uit ’n relatiewe vervelige droom wakker word en met albei voete weer in realiteit kan staan. Nog ’n motief wat interessant gedoen is, en wat byna geloofwaardig oorgedra word is die “trips” waarop Heilbrandt gaan – eerstens omdat daar nooit vertel word op watter dwelms die persoon is nie so die tipe “trip” kan nie bevraagteken word nie, en omdat meeste jeuglesers darem (nog nie) baie met dwelms geëksperimenteer het nie so meestal geen verwysingsraamwerk vir “trips” het nie.

Dit bring my egter by ’n belangrike punt, seker die belangrikste punt wat my eintlik bietjie bang maak dat hierdie boek in die jeug se hande beland. Die skrywer stel in hierdie teks in effek harde dwelms gelyk aan medikasie, wat ’n onwaar en baie skadelike beeld van beide dwelms en medikasie vir jongmense gee. Sommige kinders sal dalk nie lewensbelangrike medikasie wil gebruik nie, want dit is dan soos dwelms, en ander sal baie makliker dwelms gebruik want dit is “net soos medikasie”. Nog ’n aspek van die dwelms is die oorweldigende aantal jeugfiksie wat dwelms as ’n motief het, al is dit in die werklikheid nie so ’n groot probleem onder jongmense soos wat volwassenes voorgee nie.

Dít gesê, dink ek die storielyn van die oorlede moeder en die kind wat by sy ouma moet grootraak ’n baie belangrike en baie relevante tema vir baie jongmense is, en dat die boek van groot waarde kon wees as daar ’n fokus op die absolute tragedie geplaas word van kinders wat sonder ouers grootraak en selfs miskien kinders kan help om die realiteit daarvan te verwerk of selfs net maats beter te verstaan. Myns insiens het die skrywer die krag van hierdie storielyn onderskat en veels te hard probeer om “woke” te wees oor tienerkwessies.

’n Laaste motief om aan te raak is die skisofrenie diagnose. Ek is jammer ek moes die epiloog uitlap voordat die boek in jou hande was, maar hierdie was net te belangrik om nie te bespreek nie. In die teks word die hallusinasies, wanordelike gedrag, waanbeelde en negatiewe reaksies toegeskryf aan dwelms en in die psigiatriese hospitaal aan medikasie toegeskryf: maar dit is simptome van skisofrenie, nie nagevolge van behandeling daarvoor nie. Hoe dit voorgestel is laat die skrywer dit lyk of dit die psigiaters wat Heilbrandt siek maak wat eerstens: die gevaarlike wanindruk soos voorheen genoem van dwelms en medikasie gee en tweedens die klem heeltemal verwyder van die eintlike bron van die probleem: die feit dat Heilbrandt deur die trauma van sy moeder se dood moet werk en as gevolg daarvan met skisofrenie gediagnoseer word.

Weereens dink ek skisofrenie is nie noodwendig ’n “trending” tienerkwessie nie, maar selfs as dit was word dit baie oningelig in hierdie boek voorgestel.

Dit is ’n riller. ’n Sielkundige riller – vir Heilbrandt en vir die leser.

Colette Combrink
Colette Combrink is ‘n honneurstudent in Afrikaans en Nederlands, NWU, 2019