Hansie is ’n hus. Ja, jy het reg gehoor. ’n Hus met laaaang ore. Hansie en sy familie woon al vir jare in ’n snoesige klein huisie in die holte van ’n groot kremetartboom. Hansie en sy klein sussie, Hannie-hus stap elke oggend met die voetpaadjie langs die dam skool toe.
Hansie is ’n baie nuuskierige hus. Van al die husse in die woud is hy die heel nuuskierigste. Die ander husse hou nie van nuuskierige husse nie.
“’n Hus moet doen wat ’n hus moet doen,” grom Oupa-hus altyd. “Hou jou snoet uit ander husse se sake uit.”
Hansie hus probeer hard om nie so nuuskierig te wees nie, maar hy kan homself nie help nie. Elke keer as sy laaaang ore die fynste geluidjie hoor, móét hy net gaan ondersoek instel. Wanneer Mamma-hus met pakkies vol goedjies by die huis aankom, wil Hansie altyd weet wat daarin is.
“Mense sonder ore,” fluister Mamma-hus elke keer geheimsinnig en dra dan die pakkies weg.
Dit maak Hansie net nog meer nuuskierig.
Wat is hierdie mense waarvan Mamma-hus praat? En hoekom het hulle nie ore nie?
Een warm somersaand skrik Hansie in die middel van die nag wakker. Hy kan die saak nie uitlos nie. Hy móét net weet hoe lyk hierdie mens-ding. Hy staan saggies uit sy bedjie uit op en glip sy pantoffels oor sy harige pote. Suutjies klim hy die trappies op wat na Mamma- en Pappa-hus se kamer lei. Hy skuifel versigtig verby die groot bed waar Mamma en Pappa rustig slaap.
En daar staan dit. Langs Mamma se kant van die bed lê hordes pakkies wat versigtig toegeknoop is. Blitsvinnig gryp Hansie ’n pakkie en verdwyn weer saggies by die deur uit.
Terug in sy kamer bestudeer Hansie die pakkie noukeurig. Hierdie mens-ding kan tog nie gevaarlik wees nie – nie as hy nie eens ore het om mee te hoor nie…
Hansie knoop die pakkie versigtig oop en staan terug. Die pakkie gaan skielik woes aan die woel. Hansie hou sy asem op en vou sy lang ore styf oor sy ogies. Hy hoor die geritsel soos die ding in die pakkie steeds wriemel om uit te kom.
Skielik is dit stil.
Hansie loer versigtig onder sy een oor uit. Die pakkie staan nou stil en ’n eienaardige, ronde gesiggie loer oor die rand. Hansie frons. Hy staan versigtig nader en bekyk die gedroggie op sy bed. Behalwe vir die woeste oranje-rooi krullebol bo-op sy kop, het die mens-ding nie een enkele haar op sy lyfie nie. Sy pels is seepglad. ’n Klein, ronde snoetjie pronk op sy gesiggie.
So, dit is nou ’n mens…wat ’n eienaardige gedierte is dit nie. Hansie laat sak sy ore.
Dis darem maar ’n klein mensie die – seker nog ’n welpie, dink Hansie opgewonde.
Die mens-welpie gaap en knip sy ogies lui. Hansie staar na hom. Maar hy hét dan mos ore! Aan weerskante van sy kop sit twee, peervormige oortjies.
Dit is darem maar klein oortjies, hoe moet hy dan sy ogies daarmee toehou as hy bang is?
Hansie staan nog nader. Watse eienaardige spikkels is dit op sy wange? Miskien het iemand iets op hom gemors. Hansie lek sy voorpoot nat en probeer versigtig om die spikkels van sy wangetjie af te vee.
Die mens-welpie hou duidelik nie daarvan nie. Hy begin skielik te skop en skree en die trane vloei soos ’n rivier oor sy wange.
“Sjuut!” skree Hansie angstig, maar die mens-welpie hou aan skree.
“Bly stil” skree Hansie weer, maar dit is asof die mens-welpie hom net nie hoor nie.
Hansie staan versteen. Wat moet hy nou doen? Mamma- en Pappa-hus kan enige oomblik wakker word. Hy sal vinnig ’n plan moet maak.
Hansie druk die mens-welpie se krulkoppie terug in die sak en hardloop so vinnig as wat sy hus beentjies hom kan dra by die huisie se deur uit. Hy hardloop al met die dampad af tot hulle boomhuisie klein raak in die verte.
Onder ’n groot wilgerboom gaan hy sit. Hy maak die pakkie weer versigtig oop. Die skril geskree van die mens-welpie klink op deur die stilte. Hoe sal ’n mens die gedoente nou stil kry?
Hansie kyk aandagtig na die mensie se plat oortjies. Dié goed werk duidelik nie. Hy sal ’n ander plan moet maak. Hy loop op en af voor die wilgerboom en probeer hard aan ’n plan dink. Na ’n rukkie besef Hansie dat dit skielik baie stil geword het. Hy draai na waar die mens-welpie vantevore gesit het. Die pakkie waai verlate rond, maar die mens-welpie is skoonveld.
“O, toggie!” roep Hansie benoud uit. Die mens-welpie het verdwyn, en dit sal nie eens help om te roep nie, want sy ore werk nie!
“O, toggie, toggie!” roep Hansie en hy skud sy kop so dat sy lang ore soos propellers om sy kop swaai. Waarheen sou die mens-welpie dan verdwyn het?
Hansie staar in die verte in. Verbeel hy hom, of sien hy ’n rooi spikkel langs die damwal af beweeg? Hansie stap ’n entjie nader en, wragties, dit is die mens-welpie se krullebos wat hy daar ver sien. Maar wat maak hy dan? Hansie hardloop nader.
O, nee! Hy is op pad na die water toe!
Hansie haas hom al nader aan die oranje kolletjie.
“Stop!” skree hy so hard as wat hy kan, maar die mens-welpie hoor nie.
PLONS!
Die oranje bol hare verdwyn onder die water.
Hansie knoop sy laaaang ore bo-op sy kop, trek sy asem in en spring in die water.
Af
Af
Af swem hy tot hy weer die oranje haardos gewaar. Hy gryp die mens-welpie aan sy peervormige oor en trek hom na die oppervlak.
Op die wal gekom, sit die mensie met groot oë en kyk na Hansie. Dan knyp hy sy ogies styf toe, trek sy asem diep in en begin skree.
A nee a, dink Hansie. Nou het hy genoeg gehad. Hy tel die skreeuende gedroggie op, gaan haal die pakkie en druk hom terug. Hy knoop die pakkie sorgvuldig en stap dan weer terug huis toe.
By die huis gekom, sluip hy weer by die trappe op en bêre die pakkie presies waar hy dit gekry het. Tevrede gaan klim hy in die bed.
Die volgende oggend word Hansie met ’n vreeslike skuldgevoel wakker. Die arme mens-welpie is seker vreeslik alleen. Hy spring dadelik uit die bed uit en trippel by die trappe op. Mamma- en Pappa-hus het sopas wakker geword.
“Wat is dit Hansie?” vra Mamma-hus met ’n frons.
“Ek wil net kom kyk hoe gaan dit met die mens-welpie.” Hansie loer nuuskierig na die pakkie langs die bed.
“Mens-welpie?” vra Mamma- en Pappa-hus gelyk.
“Ja,” sê Hansie en knik sy kop dat sy ore so wip. “Die een in die pakkie.”
Mamma- en Pappa-hus kyk fronsend na mekaar.
Hansie sug. “Die mens sonder ore wat Mamma in die pakkie wegsteek!”
Mamma-hus is vir ’n oomblik stil, en dan begin sy lag.
“Daar is nie so iets soos mense sonder ore nie, Hansie. Dit was sommer ’n grappie.”
Hansie frons. “Dit kan nie wees nie, ek het hom dan gesien. Hy het ore, maar hulle is baie klein en hulle werk nie.”
Pappa-hus glimlag. “Nou maar goed, laat ons dan hierdie mens sien.”
Hansie gryp die pakkie gretig en knoop dit oop. Hy kan sy oë nie glo nie. Al wat in die pakkie is, is ‘n nuwe hus-mus en ’n paar handskoene.
“E…ek verstaan nie…” Prewel Hansie.
“Wat is daar om te verstaan, Hansie?” Mamma-hus raak ongeduldig. “Dis amper winter en ek het vir jou sussie so paar goedjies gaan koop.”
“Maar hy was dan gisteraand daar!” Neul Hansie.
“Jy het seker gedroom, Hansie.” Sê Pappa-hus glimlaggend.
“Ek hoop nie jy het in my pakkies gegrawe nie,” sê Mamma-hus en lig haar wenkbroue. “Oupa-hus het mos gesê jy moet jou snoet uit ander husse se besigheid hou. Het jy nie ore nie?”
Die drie kyk vir ’n oomblik in stilte na mekaar. Dan bars hulle skielik uit van die lag.
Hansie weet nie wat van die mens sonder ore geword het nie, maar een ding weet hy wel:
Die twee pragtige, laaaang ore wat hy het, dié moet hy gebruik!