f_mariannabrandt2_k

Marianna Brandt

Die avonture van Magrietjie Swaaiboude, Marianna Brandt se nuutste kinderboek, het so pas verskyn. Anneretha Combrink het saam met haar in Durbanville koffie gedrink en oor lees en skryf gesels.

Wat was die vonk wat jou laat begin skryf het?

Die ‘vonk’ wat my laat skryf is ‘n goeie storie-idee. En dan is dit soos ‘n vreeslike lus wat my beetpak om binne in daardie storie te gaan kuier. Soos my onlangse boek, Die Avonture van Magrietjie Swaaiboude, my in die lewe van die karakters ingetrek het.

Hoekom het jy spesifiek gekies om jou toe te lê op kinder- en jeugboeke?

Ek het nie regtig gekies om kinder- en jeugboeke te skryf nie. Dit het maar net so gebeur. Ek skryf ook ander stories. Maar, kinderboeke lê my na aan die hart.

Jy kan jou veral in die wêreld van dierekarakters besonders inleef. Hoekom is dit vir jou belangrik om oor dierekarakters te skryf?

Dierekarakters vind byval by alle kinders. Jy het nie nodig om polities korrek te wees nie. Muise is muise en honde is honde. Dis net soveel makliker.

Dink jy die feit dat jy as kind toegelaat is om jou verbeelding vryelik uit te leef, en dat daar vir jou voorgelees is as jong kind, het n rol gespeel in jou latere skryfwerk?

Ek het behoorlik stories met my pap ingekry. By die etenstafel soggens, middae en saans voor slaaptyd het my ma vir ons stories vertel. Sy het ook baie stories vir ons gelees. En ek dink dat al die wonderlike stories wat ons gehoor het, het ons beslis gehelp om vandag kreatief te dink. Ons het altyd planne gemaak. Ons eie speletjies uitgedink. Ons het toe ek twaalf jaar oud was ons eerste verhaal uitgewerk en op ‘n bandmasjien opgeneem, met byklanke! Ons het die bure se seuns oorgenooi en ons eie radioverhaal gemaak.

Wat het jy as tienjarige gelees?

Ek het in Namibië grootgeword en was nie regtig blootgestel aan Afrikaanse boeke nie. Swakopmund was in daardie dae ‘n ‘baie’ duitse dorp en die enigste regte Afrikaanse boeke wat ek geken het, is die boeke wat ons elke jaar as boekpryse vir Afrikaans gekry het. Ek het nie grootgeword met die Saartjies en Maasdorpboeke nie. Het dit glad nie geken nie. In my tienerjare het ek natuurlik Duitse tienertydskrifte gelees. Maar daar was nog steeds die fotoverhale wat daardie tyd volop was. Ek het dit verslind.

Wat dink jy laat vandag se jong lesers tiek?

Wat vandag se jong lesers laat ‘tiek’ dink ek is stories wat hulle wegvoer van die alledaagse roetines. Kinders hou ook van interessante karakters. Hulle hou ook van ‘n storie met hoofstukke waarin hulle hul kan verloor. Kinders het al vir my gesê dat my boeke so lekker is, hulle wens dit was nog dikker. Kinders hou van fantasie, maar nie noodwendig ‘n vertaalde oorsese fantasie nie. Miskien eerder ‘n Afrika fantasie vir alle kinders – nie vertellings nie. Ek vind dat vertellings partykeer by die een oor ingaan en die ander oor uit. Wanneer ‘n karakter ‘n stem kry, dis dan wanneer kinders die karakter onthou en meer wil lees.

Die avonture van Magrietjie Swaaiboude het pas verskyn. Wat is die storie agter dié unieke verhaal?

Die Avonture van Magrietjie Swaaiboude, is ‘n boek wat my baie na aan die hart lê. My niggie, Alida Meyer van George het my eendag gebel en vertel van die gestremde man, Phillip Kotze wat met sy hond, ‘n labrador, Magrietjie Swaaiboude en ‘n koketiel wat op die hond se kop sit, in ‘n fiets met ‘n sykar deur George se strate ry. Sy het my toe vertel van die driemanskap se lewe en ek het toe besluit om hulle te gaan ontmoet. Toe kom ek op ‘n baie ineressante storie af, vergroot die karakters so ‘n bietjie en daar is die storie. Maar ek moes intensief gaan navorsing doen want die menskarakters in die boek bestaan werklik in George. Wat my eintlik gemotiveer het om die storie te skryf is Phillip Kotze wat jare gelede deur boewe aangeval is en vir dood agtergelaat is. Hy was vir maande bewusteloos. Hy is ‘n hemipleeg maar tog het hy nie gaan lê nie. Hy is ‘n entrepeneur. Hy adverteer die besighede wat vir hom borg op sy fiets en maak so ‘n goeie lewe vir homself en sy dierevriende.

Waar kry jy jou storiemateriaal en karakters vandaan?

Storiemateriaal kom op die snaakste maniere. ‘n Foto, ‘n artikel, partykeer is dit net iets wat gebeur het. Die Stoutsterte het gekom in die jaar van die Kaap se 350ste bestaansjaar. Ek het net gedink ek moet vir die kinders die storie van Jan van Riebeeck vertel. In die skole word dit nie meer so goed vertel nie. Mark Shuttleworth het ons baie trots gemaak met sy reis na die IRS, maar die wonderlike gebeurtenis verstaan kinders glad nie. Want hulle lees nie koerante nie en verstaan nie die nuus op TV nie. Dis hoekom ek hulle toe saam met die muise genooi het om dit wat Mark ervaar het aan hulle te verduidelik.

Wat dink jy moet in SA gebeur om kinders en tieners meer te laat lees, en meer Afrikaans te laat lees?

Ek dink dis baie belangrik dat onderwysers begin lees. En ek sê dit nie om snaaks te wees nie. My ondervinding is dat baie onderwysers wat Afrikaans as ‘n vak gee op skool, laerskole, nie weet van die boeke wat in Afrikaans beskikbaar is nie. Baie van die onderwysers moedig die kinders glad nie aan om te lees nie. Hulle stel hoegenaamd nie belang nie. As die onderwysers nie belangstel nie, hoekom sal die kinders dan? Ouers sal ook moet besef dat hulle nie kan verwag dat hulle kinders moet presteer as hulle nie kan lees nie.

Wat is jou grootste skryfgeheim?

My grootste skryfgeheim is dit: Jy moet baie seker wees oor die storie wat jy wil skryf. Jy moet passievol in die lewens van jou karakters wil inklim – nie vinnig en halfhartig nie. ‘n Storie word ook nie oornag uitgedink nie. Dis ‘n proses van verkenning en inleef. Jy moet daardie karakters so goed ken asof hulle enige oomblik by jou studeerkamer kan instap en met jou praat. Jy moet ook die emosies van jou karakters verstaan. Daarom moet jy baie seker wees of jy ‘n spesieke storie wil skryf want jy gaan lank met hom moet saamleef op papier en in jou gedagtes.

Onderhoud met Anneretha Combrink. Anneretha is besig met haar PhD in Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit.
Maart 2006.