Ek soek hom nie

Monoloog – Hoërskool
Anneke Langer
Die onverwagse koms van haar nuwe bababoetie is vir die jong tienermeisie 'n verleentheid.
Ouderdomsgroep: 13-15 jaar
Karakter: ’n Jong meisie, tussen 13-15 jaar, nog in die begin van haar tienerjare. Sy was haar lewe lank ’n enkelkind en is baie ingestel op wat haar maats van haar dink, daarom is die onverwagse koms van haar nuwe bababoetie vir haar ontstellend en vernederend. Sy staan in die sitkamer waar sy vir haar ouers wag om van die hospitaal af terug te keer met die baba.
Stel: Links op die verhoog staan daar ’n tafel met geskenksakke, die grootte in sakke wissel. Al die geskenke is vir ’n nuwe baba wat op pad is. Op een van die sakke staan daar: “It’s a boy!” Binne die sakke is daar ’n speelkarretjie, boublokkies en in die groot sak ’n teddiebeer met ’n blou strik om sy nek.

Ek soek hom nie

(Meisie sit op ’n bank in die sitkamer.)

Ek soek hom nie! Ek sóék hom nie (vou haar arms). Dit is só embarrassing. Wat sal Richard sê as hy uitvind? Wie wil nou by ’n meisie gaan kuier as daar die heeltyd ’n huilende, skree-ende baba in die huis is? Ek wil nie eers weet wat Lucinda en Mari agter my rug skinder nie… Almal se broers en susters is al in matriek of ouer en nou gaan ek die een wees wat met ’n bababoetie opgeskeep sit!

(Sy stap na die venster, skuif die gordyne weg om te sien of haar ouers al terug is. Sy tik ongeduldig met haar voet.)

Waar bly hulle so lank? Die baba is seker teen die tyd al lankal gebore. (ernstig) Vandat Ma my vertel het dat sy verwag, wou ek net hê my lewe moes eindig. Ek het begin huil en skree en die hele tyd net in my kamer gebly.  Pa het probeer mooipraat en aanpor. Niks het gehelp nie. Ek kon net nie vrede maak met die idee dat ek nie meer hul enigste kind gaan wees nie. (bang) Die saad in Ma se maag het bly groei en ek het geweet sodra dit blom gaan my lewe nooit weer dieselfde wees nie…en niks kon dit verander nie.  

(Stap na die tafel met die geskenke.) Die afgelope week het mense net aanhou en aanhou geskenke aandra. Dis simpel. Wat wil ’n baba nou met geskenke maak? Ek wonder of daar een vir my ook is. (Sy begin in die sakke loer haal van die geskenke uit.)

’n Karretjie? (Bekyk die karretjie van alle kante, ry hom ’n paar keer heen en weer op die tafel en sit hom dan neer.) Boooring.

(Grou weer in die sakke en haal ’n stel blokkies uit, dit glip uit haar hande en die blokkies val sodat dit verspreid op die vloer lê.) Dammit! (Sug, buk af en begin om die blokkies haastig terug in die sak te pak.) Die vloer gaan van nou af altyd vol blokkies lê en almal gaan daaroor val en op dit trap.  Ek sal maar daaraan gewoond  -(vurig) Nee. Dis my huis ook. Ek wil nie op blokkies trap nie. Ek soek hom nie!

(Iets vang haar oog in die groot sak en sy kyk versigtig daarin.)

Kan dit wees? Ja, sowaar! ’n Geskenk vir my! (Sy haal ’n teddiebeer met ’n blou strik om sy nek uit. Snak na haar asem.) Dit is die mooiste teddiebeer in die hele wêreld…(opgewonde) en dis presies die een wat ek gesoek het! (Sy maak haar oë toe en druk die beer styf vas terwyl sy heen en weer wieg.) Dit kon net Pa wees. Wag, wag hier is ’n briefie (lees hardop): “Met liefde vir die nuwe baba. Groete Ouma en Oupa.” (Gooi die teddiebeer vies neer en gaan sit kruisbeen op die vloer.) Ek soek hom nie. Ek soek hom nie!

(Haar selfoon begin lui, Sukkelend kry sy dit uit haar broeksak en antwoord.) Lucy? Nee, hulle is nog nie hier nie. Hoekom vra jy? Jy sal nie glo nie, niemand het eers vir my ’n geskenk gegee nie… Nee, ek dink hulle het vergeet ek bestaan.

(Hoor iets, hardloop na die venster en kyk uit.) Hulle is hier! Ja, ek sien hulle op die stoep staan. (Opgewonde) Ek bel jou later terug.

Ek kan nie die baba sien nie. (Rek haar nek om beter te sien.) Waar is die baba? (Frons) Hoekom huil Pa? Wat maak Dominee hier?

(Maak die venster oop en druk haar oor daarteen. Luister ’n oomblik.)

Stilgeboorte?  Beteken dit…nee, nee…dit kan nie wees nie. (emosioneel) Ek soek hom nie. Ek soek hom nie. Ek soek hom… (Sit haar hand voor haar mond en storm van die verhoog af).

Anneke Langer
Anneke Langer is ‘n skryfkunsstudent aan die NWU.
September 2019
Kopiereg Anneke Langer

As jy dié stuk wil opvoer, stuur ‘n versoek aan kollig@storiewerf.co.za
met jou naam, ouderdom, die titel, en waarvoor jy dit wil gebruik.