'n ou soos jy

‘n Ou soos jy

Annabel Allers
LAPA

Die wit BMW hou voor ons hek stil.

“Het jy alles, Emma?” vra my ma. “Het jy jou tandeborsel onthou? As julle daar aankom, let tog op wat die straatname is ingeval jy iewers verdwaal.”

“Genade, Annali. Sy gaan nét see toe! Jy laat dit klink asof sy op pad is om ‘n maand lank in die wildernis te gaan bly.”

“Daar is niks fout daarmee om ‘n mens oor jou kinders te ontferm nie, Johannes. Onthou jy nie wat laasjaar in Namibië gebeur het nie?”

Ek en my pa sidder gelyktydig. Nie een van ons wil graag aan die Namibië-voorval herinner word nie. Ek tel my tasse vinnig op, maak seker ek het my gunsteling- Batman comic ingepak, en ek kan nie gou genoeg deur die voordeur ontsnap nie. As my ma eers my pa se volle naam gebruik, moet ‘n mens maak dat jy wegkom.

Karlien groet my by die kar.

“Haai, vriendin! Ek’s so opgewonde dat jy saamkom. Dit gaan so lekker wees!” sê sy en gee my ‘n drukkie.

“Ek kan nie wag om weg te kom nie,” fluister ek in haar oor. “My ma is al ‘n week lank in freak-out mode!” Ek draai na waar my ouers op die stoep staan en waai vir hulle. As ek nou al waai, sal hulle dalk nie uitkom om met Karlien se ouers te gesels nie. Ek waai nog ‘n paar keer.

“Is jy seker jy het genoeg onderklere ingepak?” roep my ma met ‘n diep kloof tussen haar wenkbroue. Ag, kan die aarde my asseblief nou maar insluk. EK hoor hoe iemand agter my proes.

“Toemaar, Tannie, as sy nie het nie kan sy dié wat sy aangehad het elke aand in die stort uitspoel en die volgende dag weer aantrek,” roep ‘n manstem terug. My ma lyk asof sy pas ‘n spinnekop ingesluk het. Haar mond gaan geluidloos oop en toe soos ‘n hond wat na borrels hap.

Ek kners op my tande en draai stadig om, nie seker of ek gereed is vir wie agter my staan nie.

“Ek dog jou broer gaan nie saam nie,” fluister ek vir Karlien.

Daar staan hy, in al sy glorie.

Christiaan, Karlien se ouer broer, leun luiweg teen die kar en glimlag breed vir my ma. Sy donker kuif hang oor sy oë. Dan kyk hy vir my en my hart begin bokspring.

Ek sluk, my keel is skielik vreeslik droog.

“Haai, Christiaan,” groet ek en my stem kraak. My nek voel warm. “Ek dog jy sou dié vakansie saam met Elzani in die Drakensberge gaan kamp.” Ek probeer glimlag. Miskien gaan laai Karlien se ouers hom by Elzani se huis af voordat ons op die snelweg kom.

Miskien…

lusmakers