Papierblomme

Papierblomme

Helena Hugo
LAPA

Alles, elke ding het sy tyd, dis wat die Bybel sê. Elke lewende wese, elke plant, elke dier en mens wat asemhaal, het ‘n begin, ‘n middel, en ‘n einde; tyd om gebore te word, te lewe en te sterf, om te onthou en te vergeet. Maar wanneer Janine aan haar lewe terugdink, is daar dae en tye wat sy nie kan vergeet nie. Toe sy sewe jaar oud was, het daar ‘n deur tussem haar en Jesus die Here toegeklap. Om dit oor te vertel, besef sy, moet sy teruggaan na die winter van 1990. Selfs nou, ná al die jare, onthou sy dit asof dit gister gebeur het, en word sy weer klein. Wat was koud daardie oggend . . .

Janine is nie lus om op te staan nie, maar sy moet badkamer toe en die son loer al deur die spleet tussen die gordyne en sny haar balletprent middeldeur: Die een helfte is vaal, die ander helfte pienk. Sy tel tot drie, stoot die komberse van haar af en sit regop.

Watter dag is dit vandag? Haar skoolrokkie hang nie oor die stoel nie. O ja, dis Sondag. Sy gaan na die klein kerkie, Mamma en Pappa na die groot kerk. Snaaks dat Mamma nie kom kyk of sy wakker is nie.

Die telefoon lui.

Sy soek haar pantoffels onder die bed, en kry hulle aan hul haasore beet. Haar kamerjas lê op die bed se voetenent. Sy trek dit aan en gaan staan voor die venster. Die gordyne het pienk rosies, sy het dit self gekies. Saans trek Mamma hulle toe, soggens maak sy hulle oop. Vandag doen sy dit self. Sy moet wegkyk, want die son skyn in haar oë. Miskien is Mamma en Pappa moeg. Hulle was gister Pretoria toe, dis hoekom tannie Jessie by haar kom bly het, Sy en tannie Jessie het The Little Mermaid gekyk, twee keer agtermekaar.

Daar lui die telefoon weer. Iemand is wakker, want iemand antwoord. Wie bel tog so aanhoudend?

Toe sy die deur oopmaak, staan daar ‘n vreemde tannie in die gang. “My arme kind.” Sy steek haar arms uit asof sy haar wil gryp. “Jessie!’ roep sy na die sitkamer se kant. “Sy’s wakker!”

Die volgende oomblik staan tannie Jessie by hulle en huil. “Ninatjie. . .” Tannie Jessie kyk na haar met rooi oë. “Hoe sê ek dit vir jou?”

Janine word bang. “Mamma!” skree sy. “Ma!”

Tannie Jessie se arms hang. “Sy’s weg.”

lusmakers
0
Would love your thoughts, please comment.x