Mitch Wilson slinger sy skoolsak oor sy skouer en trek die tuinhekkie agter hom toe. ‘n Gedreun in die verte laat hom opkyk. Was dit donderweer? Sy oë glip oor die horison en steek vas bo die berge in die ooste, waar ‘n massiewe lensvormige wold onder die son versper wat nog skaars op is. Dit is die vreemdste wolk wat hy al ooit gesien het, die onderkant donker en onheilspellend, met die ronding aan die bokant wat skitterwit glim. Silwer blitse dans in die donkerste deel van die wolk rond.
Hy ril. Hy het vanoggend met ‘n knop op sy maag wakker geword, soos hy altyd voor ‘n groot eksamen kry. Maar hy skryf vandag nie eens ‘n klastoets nie. Nou laat hierdie vreemde wolk die knop net stywer span.
“Dis ‘n lentikulêre wolk,” praat Lionel Afrika skielik langs hom.
Mitch ruk soos hy skrik; hy’t nie Lionel hoor nader kom nie. “Jeez, dude, vir wat bekruip jy my so?”
“Jammer, ek het nie besef jou kop is in die wolke nie.” Lionel lag vir sy eie grappie en druk sy bril stywer teen sy neus vas. “Lentikulêre wolke lyk maar so weird, en met genoeg verbeelding kan mens dink daar kruip ‘n spaceship binne-in weg. Maar trust my, dit is net ‘n wolk, en soos met alles is daar ‘n doodeenvoudige wetenskaplike verduideliking vir die vorm. Mooi, nè?”