Die meisie wat gedink het haar ma is 'n meermin

Die meisie wat gedink het haar ma is ‘n meermin

Geskryf deur Tania Unsworth. Vertaal deur Lydia du Plessis.
LAPA

Die eerste keer wat Stella Malherbe wegloop van die huis af, is dit in haar slaap.

Sy begin in haar slaap loop toe sy agt is, kort ná haar ma se dood. Aanvanklik kom sy nie verder as haar slaapkamerdeur nie. Die handvatsel ratel sodra sy daaraan raak en maak haar wakker.

Een aand is die deur egter op ‘n skrefie oop en loop sy tot in die gang sonder om wakker te word. Sy loop saggies by die trappe af, deur die voorportaal en tot by die kombuis. Die marmer-kombuistoonbanke wat tannie Connie elke dag poets, blink soos water in die maanlig. Sy loop by die agterdeur uit en oor die stoep. Sy loop sonder om te aarsel, asof sy bevele volg.

Die gras is nog nat van die sproeiers, maar Stella voel nie die koue onder haar kaal voete nie. Sy is vas aan die slaap. Sy loop deur die geel poel wat die stoeplig oor die grasperk gooi. Dan beweeg sy al dieper en dieper die skaduwee in. Toe sy by die lae klipmuurtjie kom, klim sy oor. Haar voete land op die plaveisel aan die ander kant.

Die swembad se water is donker en kalm in die nag.

Gelukkig kan Stella se pa nie weer slaap nie. En gelukkig is hy te hartseer om te onthou om sy gordyne toe te trek. Hy sien Stella se wit nagrok buite in die donker.

Hy is net betyds. Sy is reeds besig om te val toe hy haar om die middel gryp en wegtrek van die water af.

lusmakers