Die einde van al my vakansieplanne
“Komaan, Pa is seker nie ernstig nie!”
Die oomblik toe daardie woorde uit my mond is, is ek spyt daaroor. Nie omdat ek wéét dit gaan my pa se bloeddruk nog verder opjaag nie – ek is al gewoond daaraan om sy bloeddruk te laat styg. Maar as daar een ding is waarvan jy nie juis my pa kan beskuldig nie, is dit ‘n goeie humorsin. My pa is ‘n prokureur. Hy is altyd ernstig. Okei, dis dalk onregverdig van my – ek is seker daar is prokureurs wat heeldag lank vrolik en vol grappies is. My pa is net nie een van hulle nie.
“Luan, jy moet my mooi verstaan,” sê hy met daardie stem wat getuies tranerig kan maak in die hof. “Jy is in groot, groot moeilikheid. Ek het besluit dis beter dat jy die vakansie iewers anders deurbring. Terwyl jy weg is, sal ek dinge uitsorteer.”
As my pa ‘n superhero was, sou dit beslis sy superkrag wees. Ta-daaa! Die Ongelooflike Meneer Uitsorteer.
My ma sug moedeloos. “Ek sal jou help om klere in te pak.”
As my ma ‘n superhero was, sou haar superkrag wees om te sug en misdadigers die soort verwytende kyk te gee wat hulle lewenslank skuldig laat voel. Die Gemaskerde Gewete.
“Jou ouma het laat weet sy sal môreoggend vroeg hier wees om jou op te laai,” sê my pa en trek die TV se afstandbeheer nader. Kaptein Klaargepraat.
Ek byt op my tande.
Fantasties.
Ek het planne gehad vir die vakansie.
Laat slaap.
Playstation speel.
Flieks kyk.
Op Whatsapp en Twitter rondhang.
Saam met my pelle kuier.
‘n Trippie Karoo toe saam met my ouma.
Raai watter een was nié op my lysie nie.
Ek weet nie hoe hulle met dié idee vorendag gekom het nie. Dit is nie asof ‘n vakansiekuiertjie saam met my ouma ‘n gereelde gebeurtenis in my lewe is nie. Om die waarheid te sê, my ouma se naam word nie eintlik baie in ons huis gehoor nie.