Elf dae op 'n eiland

Elf dae op ‘n eiland

Elizabeth Wasserman
Tafelberg

Sy maak haar oë oop, maar dit bly donker.

Iewers raas die see, woedend. Die lug wat sy inasem is warm. Sy proe sout. Sy roer versigtig, maar haar lyf voel swaar, asof sy ver moes swem, of hardloop, of . . .

Hoe het sy hier gekom?

Sy draai op haar sy. Sy voel naar en duiselig. Haar klere is nat en daar is ‘n kloppende pyn in haar boarm. Sy probeer regop kom. Die rots onder haar is glad en sy stamp haar kop hard teen iets laag bo haar kop.

Sy trek haar bene op en laat rus haar ken op haar knieë, sluit weer haar oë en probeer dink.

Alex. Hy was daar. En Trix en Gaby en . . . Waar is almal?

Sy sak terug op die grond en gee haar oor aan ‘n swaar, swart moegheid wat haar worstelende gedagtes oorweldig. Sy onthou niks meer nie en sy gee ook nie om nie. Die klip onder haar wang is klam en warm, en sy verbeel haar sy kan die hart van die aarde diep onder haar voel klop. As sy net hier kan bly lê, doodstil . . . totdat . . .

Toe sy weer haar kop oplig, spoel lou water oor haar bene. Daar is flou lig, en sy skreef haar oë om beter te fokus. ‘n Blink skerf maan kruip oor die horison en toor lig uit die see, ‘n smal prentjie geraam deur donker rots.

Sy is vasgekeer in ‘n grot, en die gety kom in.

lusmakers