Snak

SNAK

Rouxnette Meiring
Tafelberg

1

Kara

Dit kom stadig na my aangedobber. Donkerbruin en uit gloeiende hout gesny. K-A-R-A. Stadig, maar lewend en polsend, vloei dit tot by my. Ek moet regaeer, dis ek, hierdie lyf, hierdie een wat dink.

“Kara.”

My oë moet oopgaan, maar teen my wil, die letters is so mooi . . . My ooglede beur hulleself stukkie vir stukkie oop.

Alles om my is wit, daar is ‘n skerp lig wat in my gesig skyn. Ek kan skaduwees van figure uitmaak. Menslike vorms.

Ondertoe voel dit asof daar niks is nie . . . asof ek net ‘n kop is. Ek probeer my lyf voel, maar ek kan nie. Net my brein en my oë werk.

Die skaduwees om my het agtergekom ek is wakker, want hulle beweeg vinniger en meer doelgerig. Ek voel ‘n ander energie aan, tog praat hulle steeds nie met mekaar nie.

Het ek my verbeel dat iemand my naam genoem het? Of het ek myself wakker geroep? Ek probeer onthou waar ek is, hoekom ek hier is, wat met my gebeur het, maar ek kan nie. My geheue is wit soos die vertrek. Tog het ek my eie naam onthou . . .

“Wat is jou naam?” vra die skaduwee.

Ek wil antwoord, maar my mond en stembande wil nie saamwerk nie.

Die skaduwee draai terug na die ander, wat lyk of hulle om ‘n soort skyngram saamdrom. Niemand praat nie.

Ek konsentreer hard om die woorde te vorm.

“Sit sebief die skerp lig in my gesig af.” Dis ‘n verligting om myself te hoor.

Die lig gaan dadelik af.

Die kamer is nog steeds wit. Een van die figure kom nader. Waar het ek al voorheen so iemand gesien?

“Wat is jou naam?” vra die perfekte mensfiguur.

Vir ‘n oomblik sien ek die buitelyne van my skelet in haar oë weerkaats, maar dalk het ek my verbeel.

Ek weet ek is Kara, maar dis absoluut al wat ek weet.

Ek wil praat, maar iets keer my. As ek alles gesê het wat ek weet, wat bly oor?

“Ek . . . weet nie,” sê ek.

lusmakers